Esegiël 2 – 3: 3

Gelowiges is God se hande en voete in hierdie wêreld, sê ons. God sien hoe dit hier gaan, het deernis met mense en het Jesus gestuur om te kom help. Jesus stuur ons. So word Esegiël deur God geroep en gestuur. Hy moet opstaan, op sy voete kom. Hy het ’n taak. Hy moet met mense gaan praat. Hulle is ongelukkig en moedeloos. Hulle wil nie hoor nie. Esegiël en sy mense leef as ballinge aan die Kebarkanaal, ver van hul eie land. Dit gaan sleg. Hul koning is wreed vermoor en die boodskap is duidelik: Daar is geen toekoms vir julle nie. Sit aan die Kebar word ’n uitdrukking van moedeloosheid, magteloosheid, hooploosheid in hul taal. Dit sê iets soos ons uitdrukking in sak en as sit.

Juis daar aan die Kebar roep God Esegiël: Kom op jou voete, staan op. Daar is werk om te doen. Esegiël ervaar hoe die Gees hom optel en op sy voete neersit. Die Gees inspireer hom, bring hom tot aksie en gee hom die krag om te doen wat hy moet doen – om die moedeloses te help. Sy boodskap: Alles voel nou doods en hopeloos, maar daar sál weer nuwe lewe kom. Want God is oral. God is nie net in die tempel of kerk nie. God is ook hier aan die Kebar waar julle in sak en as sit. Die teken wat God vir Esegiël gee, is dat hy die boekrol moet eet. So word God se woord deel van hom, deel van sy liggaam. Dit smaak soet soos heuning. Dit is lekker, dit gee vreugde. En waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

Die vreugde moet gedeel word. Voete kom in beweging. Staan op. Gaan uit in die wêreld, daar waar mense sit aan die Kebar in sak en as. Deel die hoop en vreugde wat jy het met hulle. Dan kan die Gees ook daar nuwe lewe bring – hoop, heling en genesing. En mense kom weer op hul voete.

Prof Yolanda Dreyer, Universiteit van Pretoria/Nederlandssprekende Gemeente

 

af
af
Copy link