Lukas 10: 38-42

Christene beleef dieselfde uitdagings in elke generasie. Daar is twyfel, teenstand, ontmoediging, verdeeldheid, verwerping, die stryd teen selfsug, en so kan die lysie langer raak. Maar vandag kan ons uit die teksgedeelte leer hoe ons met hierdie uitdagings te werk kan gaan. Ons spreekwoordelike krane loop en loop, in die sin dat ons besig is met ’n honderd en een aktiwiteite. Dikwels is hierdie aktiwiteite waarmee ons ons dae vul nie sleg nie. Tog kry ons nog gereeld daardie gevoel van leegheid, frustrasie en sielsmoegheid. Ons vreugde verdwyn en die lewe word ’n stryd om oorlewing.

In ons teks beklemtoon Jesus hoe belangrik dit is om by sy voete rus te vind en van Hom te leer. Marta is ongelukkig so besig om ’n goeie gasvrou te wees, dat sy kwaad raak omdat haar suster haar nie help nie. In daardie oomblik spreek sy nie net haar suster aan nie, maar ook vir Jesus, en beveel sy Hom sommer ook wat om vir haar suster te sê. 

Marta, Marta… Met sagte, vriendelike en simpatieke woorde antwoord Jesus haar. Hy sê: Jy is bekommerd oor te veel dinge. Net een ding is nodig en dít het Maria gekies. Ons het ’n balans nodig tussen beleef (luister) en bedien – anders raak ons so besig dat ons onsself oorwerk, of nog erger, dat ons naderhand nie meer onderskei tussen wat belangrik is en wat nie.

Daar is geen plaasvervanger vir ’n intieme verhouding met Hom nie. Dit is wanneer ons God se stem tussen ander stemme kan begin onderskei, dat ons lewe in plek val. God se stem deur die evangelie van Jesus Christus. Daarom moet ons ook gereeld tyd maak om stil te word aan sy voete, en by Hom te leer.

Ds Gustav van Zyl, Phalaborwa

af
af
Deel met behulp van
Copy link