1 Korintiërs 3: 4-17
Wat beteken dit om kerk te wees? Paulus beantwoord hierdie vraag wanneer hy skryf aan ’n gemeente wat nie daad by hul woord laat pas het nie. Hy gebruik dan drie beelde om dit meer verstaanbaar te maak: saailand, gebou en tempel.
Die gemeente as saailand gaan daaroor dat Paulus die saadjie van geloof kom plant het, Apollos het dit natgegooi, maar net die Here kan dit laat groei. As hulle dan stry oor die planter en die natleier, dan is hul fokus op die verkeerde plek.
Tweedens word die gemeente as gebou van die Here uitgebeeld. Die gemeente en hul geloof word op die fondament van Jesus Christus gebou. Die gemeente is die stene. Maar die stene moet goed gebou word en die stene moet saam ’n struktuur wees wat sterk staan. Hierdie bouwerk moet met integriteit gedoen word om die geloofstoets te kan weerstaan. ’n Kerk kan nie op menslike, wêreldse neigings en teorieë gebou word nie, maar alleen op die onverbloemde boodskap van die gekruisigde Christus.
Derdens dien die gemeente self ook as ’n tempel waarin God se Gees woon. Dit is wonderlike nuus, want dit beteken dat God nie net meer teenwoordig is in ’n fisiese tempel nie, maar by die gemeentelede. Daarom moet die gemeente hierdie “tempel” oppas en dit ook nie self vernietig nie. Hulle moenie hulself besig hou met jaloesie, rusie en groepvorming wat afbreuk doen aan die geestelike tempel van God nie. Hulle moet juis die eenheid onder mekaar in die gemeente ten sterkste bevorder en bewaar. Hierdie geestelike tempel, die gemeente, moet ’n “plek” wees waar die grootste gawe van Liefde kans kan kry om te ontwikkel. God het die tempel gekies en daarom moet dit onderskei kan word van die wêreld.
Daarom kan ons sê dat om kerk te wees, gaan daaroor om ’n eenheid te wees in Christus. ’n Eenheid wat saam groei in geloof en liefde. Dit is groei wat net deur God moontlik gemaak kan word. Die kerk en gelowiges mag dalk in die wêreld wees, maar ons is nie van die wêreld nie.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp
