Johannes 14: 6

Het jy al verdwaal? Ek praat nou van regtig verdwaal. So, dat jy geen idee het waar jy is of hoe jy daar gekom het nie. Dit maak nie saak watter afdraaipad jy vat nie, jy kom weer op dieselfde plek uit. Al wat jy by jou het, is ’n selfoon sonder ontvangs. Dan sal jy weet watter emosies ’n mens beleef. Vrees, angs, miskien ‘n bietjie woede. Beslis baie wanhoop.

Baie mense voel elke dag so: asof hulle in die oerwoud van die lewe verdwaal het. Hulle beleef digte bosse vol stukkende verhoudings en gebroke harte. Of droogtes en leë damme. Of oorvol dagboeke, opdragte en eksamens. Waarheen is U met my op pad, Here?

Jesus vertel sy dissipels dat Hy hulle gaan verlaat. Hul wêreld tuimel ineen. Wat dan van die pad vorentoe, Here? Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Tomas, moenie bang wees nie – Ek is die pad. En Filippus, jy vra dat Ek die Vader vir jou sal wys. Maar Ek en die Vader is een! Ek is die pad.

Let mooi op wat Jesus hier sê. Hy sê nie waar die pad uit die oerwoud is, hoe lank dit is, en of die pad opdraande of afdraande is nie. Nee. Hy sê net dat Hy die pad is. Hoe moeilik kan dit wees om die pad te ken? Daar is nie iets ekstra wat jy nog moet weet en ken nie. As jy My ken, sal jy my Vader ook ken.

Om die volgende draai van die lewe wag daar dalk ’n oerwoud. ’n Hospitaalbed, ’n leë huis, dalk ’n begraafplaas. Dit maak nie saak nie, want ons ken die pad. God is ons pad. Ons weet ons hoort nie eintlik hier nie. Ons weet ons het nie altyd die kennis om die regte pad te vind nie. Ons ken Jesus. Hy is self die weg en die waarheid en die lewe. Die pad wat na die Vader lei!

Here, dankie dat U ons pad is. Amen.

Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria

af
af
Deel met behulp van
Copy link