1 Korintiërs 12

Wanneer ons van kerk praat, waarvan praat ons? Is dit die gebou, die plek waar ons bymekaar kom, of is kerk die mense? Romeine 16: 5 verwoord kerk baie mooi: Groete ook aan die gemeente wat gereeld in hulle huis bymekaar kom.

Kerk is afkomstig van die Griekse woord ekklesia wat beteken: (1) ’n bymekaar kom of (2) dié wat geroep is. Met redelike sekerheid kan ons dus sê dat wanneer daar na kerk verwys word, dit nie gaan oor die gebou of plek van samekoms nie, maar juis oor die samekoms van mense. Mense wat hul geloof in Jesus Christus plaas. Mense wat deur God geroep is. Hierdie samekoms/kerk behoort ’n ruimte te wees waar lidmate ten volle die liggaam van Christus kan uitleef. Hierdie samekoms/kerk moedig mekaar aan, onderrig mekaar en bou mekaar op deur kennis en genade van Jesus Christus.

Wanneer daar na Jesus se liggaam verwys word, word die woordjie Sarx gebruik – gebroke liggaam. Met ander woorde, die liggaam met sintuie, ’n liggaam wat siek kan raak, en ’n sondige liggaam. Hierdie liggaam van My, Jesus, kom na jou toe deur gebroke mense. Jesus wil vir die mense leer dat wanneer hulle met Hom te doen het, hulle ook met die gebrokenheid van mense te doen het. Maar binne die liggaam/kerk wil ons dit anders hê. Almal moet altyd alles reg doen. Maar doen ek alles reg? Almal se integriteit moet sodanig wees dat dit nooit bevraagteken word nie. Kan ek dieselfde sê?

Daar is soveel Christene wat deur die gebrokenheid van die “kerk” ontnugter word en kies om die geloofspad alleen te stap. Hulle wil nie deel wees van hierdie wanfunksionele liggaam nie. Maar geliefdes, bestaan daar iets soos ’n perfekte liggaam? ’n Perfekte kerk?

Tog, ten spyte van ons gebreke, het God steeds sy kerk en mense lief! Laat ons mekaar ook so liefhê.

Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes

Share via
Copy link
Powered by Social Snap