Markus 7: 24-30

Ons kan aanvaar dat daar in Markus se tyd – ongeveer 40 jaar na Jesus se kruisiging en opstanding – steeds Joodse Christene was wat nie mense uit ander volkere as volgelinge van Jesus wou aanvaar nie. Hulle is dan heidene, hulle is nie besny nie, hulle eet allerhande ongeoorloofde kosse, hulle is onrein! Daarom is hierdie verhaal oor Jesus se besoek aan die gebied van Tirus in Markus se Evangelie so belangrik. Tirus was ’n groot stad aan die noordwestelike kus van Libanon. Uit die oogpunt van Jode in Judea was dit eenvoudig ’n heidense gebied met heidense mense. Tog reis Jesus al die pad soontoe, dalk juis om daar ’n bietjie weg te kom van die skares wat Hom oral in Galilea gevolg het.

Maar nood ken geen grense nie. Ook hier in die gebied van Tirus hoor ’n raadop ma van die Geneser van Galilea wat daar tuisgaan. Haar dogtertjie was van ’n bose gees besete. Wat dit presies behels het, weet ons vandag nie, maar dis duidelik dat dit ernstig en uiters kommerwekkend was. Die desperate ma val voor Jesus se voete neer en pleit by Hom om die duiwel uit haar dogter uit te dryf. Jesus gee nie dadelik gehoor aan haar versoek nie. Hy antwoord haar eers soos die Jode van sy tyd so ’n versoek waarskynlik sou beantwoord: Maar wat van óns mense? Jy is dan Grieks; jy is nie deel van die uitverkore volk van God nie.

Here, maar daar is darem seker genoeg genade vir die ander ook, antwoord sy.  Daarop stuur Jesus haar huis toe met die versekering dat haar dogter klaar gesond is.

Onthou jy die tyd toe daar sowaar kerkmense was wat teen sendingwerk gekant was? Herken jy die redenasie van mense wat die kerk se verkondiging en barmhartigheid wil beperk tot “ons mense”? Hoor jy die besware teen ’n missionale kerk? Jesus het anders opgetree. Hy het met sy dade getoon dat God se genade geen grense ken nie. Wat vertel óns dade?

Dr Wouter van Wyk, Sinodaal

af
af
Copy link