Deuteronomium 8
Die mens se vindingrykheid en vermoë om planne te maak, bly merkwaardig. Een projek wat elke mens laat klein voel, is die Gariepdam. Die projek is in 1928 geloods. Gariep is die Sesothowoord vir “Groot Water”, en dié dam is merkwaardig. Dit is die grootste opgaardam in Suid-Afrika en is meer as 100 kilometer lank. Dalk minder bekend is die 83 kilometer lange tonnel wat water na die Visrivier vervoer, en nog ’n tonnel van 13,2 kilometer wat water na die Sondagsrivier kanaliseer. Lees gerus meer van die damwal en die hoeveelheid beton wat gebruik is vir die projek in die boek Wonders van Afrika deur Dawid van Lill.
Alhoewel ons erkenning moet gee vir knap werkmanskap, moet ons as mense altyd een les onthou – en dit is om nederig te bly! Ons is nooit self vir ons voorspoed en monumentale prestasies verantwoordelik nie. ’n Volk kan baie maklik in die slagyster trap en glo dat hul eie insig die rede is vir hul welvaart. Trouens, dit is ’n probleem so oud soos die berge. Moses preek vir die volk en waarsku hulle dat hul lewenskwaliteit in die beloofde land sou styg. Maar daar is ’n gevaar wat oor hulle sou hang. ’n Kommentaar vermeld drie sake, naamlik: Hulle kan hul identiteit verloor as God se volk; hulle kan hoogmoedig raak; en hul geloof, hul verhouding met God, kan skipbreuk ly.
Waarmee is ons besig? Hoe bestuur ons ons wêreld en ons welvaart? Waarvoor gebruik ons ons insig? Om ryk te word, of om berge in geloof te versit? Laat ons aan God, die Almagtige, die eer gee in alles wat ons aanpak en bereik: …dit is Hy wat vir jou water uit die klipharde rots laat vloei het in hierdie dor land sonder water… (Deut 8: 15b).
Gebed
Here, ons God, U het ons bevry uit die plek van slawerny, die sug na meer en meer besittings. U seën ons met insig en wysheid. U rus ons deur die Gees toe om dit te gebruik tot die verheerliking van u Naam. Amen.
Gesang 530: 1-2
Ds Anna-Marie Kloppers, Rustenburg Jac van Belkum
