Kolossense 1: 15-20

Die leer oor die Drie-eenheid is moeilik om te verstaan: Hoe is dit moontlik dat drie Persone een in wese kan wees? Die kerk het langs die weg van stryd en worsteling by hierdie belydenis uitgekom. Agter hierdie woorde hoor ’n mens die onenigheid wat Arius met sy dwaalleer veroorsaak het. Hy het geleer dat Christus nie God is nie. Volgens hom was Christus ’n besondere, begaafde mens, maar nie God nie. Dit het gelei tot ’n vergadering van biskoppe in Nicea in 325 nC. Die vergadering het op ’n geskil uitgeloop waar ’n keuse gemaak moes word. Hulle moes kies tussen twee moontlikhede. Die Seun is van gelyke wese met die Vader, of die Seun is van gelyksoortige wese as die Vader. In die Grieks is die verskil net een letter, maar die verskil in betekenis is enorm!

In werklikheid is daar gestry oor ’n bo-God en ’n onder-God, of is daar slegs een Here? Arius was van mening dat daar in die Goddelike ’n hoëre en ’n laere is. Athanasius kon nie anders nie as om die Skrif aan te haal: Hoor, Israel, die Here onse God is ’n enige Here (Deut 6: 4, Ou Vertaling).

Wat is die praktiese betekenis van dit alles? Die keuse vir van gelyksoortige wese as die Vader, laat ruimte vir twyfel. Is daar nou twee magte waarmee ons moet rekening hou? ’n Opperste Goddelike mag in die hemel en die liefde wat so duidelik in die Seun na vore getree het? Is daar enige ooreenstemming tussen hierdie twee?

Ons mense is so dikwels verontrus oor ons eie sonde en verlorenheid. As ons nog moes worstel met die vraag of die opperste Goddelike mag en die liefde van die Seun dieselfde is, sou dit vir ons baie moeilik gewees het. Ons hoef géén twyfel te hê dat die Vader wel sy stempel van goedkeuring op die Seun se liefdeswerk in ons belang sal plaas nie, want die Vader en Seun is één.

Gesang 260: 2-3

Ds Petri de Kock, Pierneef

af
af
Deel met behulp van
Copy link