Joël 1: 2-20: 

’n Joodse oupa vertel vir sy kleinkinders: Iets geweldig groot het in ons geskiedenis gebeur wat alles beïnvloed het wat vir Jode belangrik was. Hulle vra: Wat was dit, Oupa? En hy antwoord: Sprinkane! Hulle het ons land verwoes. Hulle het die wingerde en olyfbome kaalgestroop en afgevreet. Koring en gars het in die slag gebly. Selfs die granaat-, dadel- en appelbome het verdor. Daar was dus nie meer olyfolie of wyn vir gebruik tydens die oggend- en aandrituele by die tempel nie. Daar was niks om na die tempel te bring as offers nie. Dit was ’n groot verleentheid vir die Jode. Maar die eintlike verleentheid was die ontdekking dat hulle nie in die daaglikse roetiene van hul godsdiensbeoefening kon volhard nie. Joël roep die volk op tot verootmoediging.

Hulle moet in die teenwoordigheid van die Here gaan sit en huil en daardie dag niks eet nie. Wat Joël doen, is om te fokus op hul nood (sonde), en hy wys hulle na God toe terug. God is betrokke by hulle in hul swaarkry. Hy bemoedig hulle, en hulle besef dat hulle nie tevergeefs bid nie.

Dat daar vier opeenvolgende swerms sprinkane was wat die land gaan kaal stroop, beklemtoon die erns van die volk se sonde teen die Here. Sprinkane is simbolies van die sonde wat vernietiging bring. ’n Ramp tref hulle en dit het ’n invloed op die beoefening van hul godsdiens in die tempel. Dit bring hul godsdiensbeoefening, die egtheid en erns daarvan, in die soeklig.

Dit is vir ons ’n herinnering aan die feit dat ons ook deur loutering is in terme van ons roetines en rituele in aanbidding – die egtheid, eerlikheid, afhanklikheid en soeke na God in ’n tyd van groot onsekerheid en andersheid. Dit wat ons ook oorvertel aan ons kinders en eendag aan ons kindskinders. Wat sal die getuienis wees? Ons was soos sprinkane in ons eie oë oor ons eie onvermoë. Of sal dit getuig van die eie sonde wat ons ingehaal het en soos sprinkane verwoesting in ons lewens gesaai het?

Ds Kathleen Smith, Kaapstad

af
af
Deel met behulp van
Copy link