Filippense 2: 6-8
Op die roete, naby my huis, waar ek gereeld gaan stap, is daar twee huise wat altyd my aandag trek. Die huise het albei name en hulle is reg oorkant mekaar in die straat geleë. Die een huis se naam is Altitude en die ander huis se naam is Gratitude. Ek het lank gewonder wat altitude en gratitude (oftewel hoogte en dankbaarheid) met mekaar te doen het.
’n Mens sou kon redeneer dat ’n bepaalde hoogte in jou lewe – ’n bepaalde afstand van jou alledaagse perspektief – vir jou nuwe dankbaarheid kan bring. In so ’n geval sou ’n sekere altitude vir jou gratitude kan bring. Aan die ander kant kan ’n mens redeneer dat dankbaarheid ’n nuwe perspektief in jou lewe veroorsaak. Dit kan jou ’n nuwe hoogte in jou lewe laat bereik, vanwaar jy met nuwe oë na die lewe kan kyk.
Paulus gee egter vir ons ’n ander moontlikheid. Paulus herinner die gemeente in Filippi dat die Here, Jesus Christus, nie gekies het om aan sy afstand van mense (sy “hoogte”) vas te klou nie, maar het Homself “leeg gemaak” deur ’n dienende gestalte aan te neem en aan ons gelyk te word. In die teologie noem ons hierdie proses inkarnasie. In Jesus Christus het God Immanuel (God met ons) kom word. Ons loop in die voetspore van die Een wat Homself nie op ’n afstand van ons gehou het nie, maar intens betrokke kom word het in mense se lewens.
’n Bepaalde hoogte of verwydering van ons alledaagse lewe bring ons, daarom, nie noodwendig by dankbaarheid uit nie. Is ware vreugde nie daarin te vind om af te kom van ons spreekwoordelike berge af, en in die morsigheid van mense se lewens betrokke te raak nie? Mag ons van ons eie hoogtes afklim en besig raak op die grondvlak van mense se alledaagse lewens. Dis dalk waar dankbaarheid te vind is.
Ds Steve Oxton, Wapadrant