Lukas 24: 36-49
Die vergewing van sondes word dikwels verkeerd verstaan. Soms dink ons dat vergewing effektief beteken dat die sonde tog op die ou einde nie so erg of verskriklik is nie. Dit is egter ’n totale misverstaan van die boodskap van die Bybel. Sonde is erg. Dit is ’n verwoestende mag wat mense se lewens totaal kan vernietig. ’n Tweede algemene misverstand is dat vergewing eintlik beteken dat ons ’n kans kry om te vergoed of te kompenseer vir ons sondes. Ons redeneer dan dat sonde erg is, maar die goeie nuus is dat Jesus ons ’n kans gee om sake so ’n bietjie uit te balanseer.
Vergewing van sondes in die Naam van Christus is egter veel meer as dit. Vergewing hang nie af van wat ek of jy doen nie, maar van wat Christus gedoen het. Die sonde wat dikwels dreig om oor ons die oorhand te kry, se krag is deur die kruisdood en opstanding van Jesus finaal gebreek en vernietig. Deur sy kruis en opstanding het Christus die Oorwinnaar geword en elkeen wat in Hom glo, deel in daardie oorwinning. Deur die oorwinning van Christus het die sonde werklik “die nietige” geword (Karl Barth).
Omdat Christus opgestaan het, kan ons hoor: Vrede vir julle! Julle is verniet bang. Die vyand is verslaan. Omdat Jesus opgestaan het, daarom is julle nou los en kan julle vry uitgaan. Jul sondes is vergewe. Dit moet ook aan alle nasies verkondig word (vers 47). Dit is ons opdrag. Daartoe sal die Gees ons inspireer.
Kan vergewing nie ook op ’n ander, makliker manier, ontvang word nie? Nee, in elk geval nie Christus se vergewing nie. Waarom nie? Omdat die Heer wat opgestaan het en oorwin het, dieselfde Een is wat gesterf het en die prys vir ons sondes moes betaal (vers 46). Die Een wat waarlik kan vergewe en red, is die Een wat sy wonde kan wys. Dit kan ons alleen maar aanvaar deur die gawe van geloof en die krag van die Heilige Gees.
Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos
