2 Korintiërs 5: 11-21

Waarom is daar liefdeloosheid onder Christene? Waarom kan ons mekaar nie behandel soos ons Jesus sou behandel nie? Dalk omdat ons Jesus sonder sonde wil maak nadat God Hom tot sonde gemaak het. Vanuit eerbied het ons dalk ’n verwronge beeld van Jesus. Die beeld van ’n sondelose wenner wat gevolg en aanbid kan word. Die perfekte wese waaraan mense se swakheid gemeet kan word. Maar dit was nie die beeld waarin Jesus verskyn het nie.

Selfs al het ons Christus eens na die uiterlike leer ken, ken ons Hom nou nie meer so nie (2 Kor 5: 16, NDV). Vir Paulus moet daar ’n groot stuk skuld agter daardie woorde lê. Hy het Christene vervolg wat Christus bely het. Die uiterlike beeld van ’n vernederde, gekruisigde God. Dis ’n gruwel van ’n belydenis vir ’n Jood. Jesus het selfs voor die kruisiging reeds ’n doop tot vergifnis van sonde ontvang. Hoe kan so iemand God genoem word? Die skande!

Maar nou ken Paulus Jesus nie meer na die uiterlike beeld nie. Die beeld het natuurlik nie verander nie. Paulus se interpretasie van die beeld het verander. Die sonde wat met die doop gereinig moes word. Die swakheid wat deur die kruis beklemtoon word. Die skande wat deur mense aan Christus toegeskryf word. Dis steeds daar. Dit is daardie beeld waarin Christus leef en sterf. En dis Christus wat uit die dood opstaan. Nie die rykes, of magtiges, of invloedrykes nie. Nie dié wat as vroom of opreg of sonder sonde beskou word nie. Christus, verag, gemarginaliseer, verneder.

Om mense te behandel soos ons Jesus sou behandel, moet ons besef Jesus het nie ’n beter uiterlike beeld as ander mense gehad nie. Presies omdat geen mens se beeld goed genoeg is om aan God se beeld te voldoen nie. As ons Christus kan aanbid nadat ons Hom in vernederde, uitgeworpe swakheid leer ken het, kan geen beeld verdere liefdeloosheid teenoor ons naaste regverdig nie.

Ds Gerrit-Daan van der Merwe, Strand

af
af
Deel met behulp van
Copy link