Filippense 4: 4-9
Filippense 4 is een van die gedeeltes wat ons as gelowiges maklik aanhaal en al talle kere gehoor het. Paulus ag dit nodig om 16 keer die woord blydskap in hierdie brief te gebruik. Ek dink nie altyd ons besef hoe merkwaardig hierdie woorde van Paulus is nie. Wat ons nie altyd besef of aan dink nie, is dat Paulus hierdie brief skryf terwyl hy in die tronk is. Paulus het geen rede gehad om bly te wees nie. As ons na Paulus se lewe kyk, dit wat hy deurgemaak en opgeoffer het, sy swaarkry en lyding, alles ter wille van die evangelie, alles ter wille van die Here, dan het hy regtig geen rede gehad om bly te wees nie, veral nie in die Here nie.
Waar kom hierdie blydskap van Paulus vandaan? Wat maak dat Paulus bly kan wees in die Here, veral na al die slegte goed wat met hom gebeur het, ter wille van die Here?
Blydskap, ongehinderde blydskap, is veronderstel om ’n beduidende eienskap van gelowiges te wees. As ons dink aan hoe gelowiges deesdae met lang gesigte en die gewig van die wêreld op hul skouers rondloop, moet ons erken dat dit die teenoorgestelde gesindheid is van dit wat Paulus in hierdie brief beskryf. Christelike blydskap is nie ’n tydelike blydskap wat kom en gaan soos omstandighede dit toelaat nie. Dit is ’n blywende blydskap wat gegrond is in die gelowige se verhouding met die Here. Daarom, as Paulus vir hulle sê Wees altyd bly! is dit nie ’n voorstel of iets opsioneel nie, dit is nie iets wat hulle kan doen as hulle die dag daarvoor lus voel nie. Dit is ’n opdrag. Die bron van die gelowige se blydskap is die Here. Ongeag wat hul omstandighede is, ongeag die swaarkry en die verdrukking wat hulle beleef, kan en moet hulle altyd bly wees, want die Here is deur sy Gees altyd by hulle teenwoordig.
Dit maak nie saak hoe hierdie wêreld waarin ons leef lyk of wat rondom ons gebeur nie, Paulus gee vandag vir ons die bevestiging, dat God wat vrede gee, by ons sal wees.
Ds Marsulizé van Niekerk, Upington
