Kolossense 1: 3-11

Direk nadat Paulus sy hoorder met ’n vraag rondom Christus gelos het, begin hy om die antwoord te gee. Hierdie “skynbare danksegging” moenie oorskat word nie. Hy gebruik die danksegging as deel van sy opening om ’n “ideale situasie” te skets van hoe die geloofsgemeenskap behoort te lyk. ’n Paar belangrike dinge word uitgelig:

Hulle het geloof in Christus (vers 4). Is dit waar van die Kolossense? Nee, Christus is nie prominent nie. Hulle het liefde vir mekaar (vers 4). Dit is ook onwaar – Epafras getuig van die teenoorgestelde. Is hul hoop in die hemel gevestig (vers 5)? Weer eens onwaar. Ons gaan binnekort ander dinge in die hemel waarop hulle staatgemaak het, ondersoek. Die stelling dat hoop vrugte dra en groei soos in die hele wêreld (vers 6), is ook nie waar nie. Om die waarheid te sê, die enigste vrugte en groei van die Kolossense was hul hoogmoed en neersien op ander mense.

Nadat Paulus sy skynbare danksegging afgehandel het, raak hy meer persoonlik in sy gebed. In hierdie gebed is daar nie meer skynwaarhede en skynhoue wat hy slaan nie. Inteendeel, hy is besig om sy hart hier bloot te lê. Dit is byna soos ’n ouer wat met trane in die oë met sy geliefde kind praat. Hy is bekommerd en bid onophoudelik vir hulle (vers 9). Die doel van sy gebed is eenvoudig. Hulle moet die vermoë ontwikkel om te onderskei waaroor dit regtig gaan. Al die probleme in die danksegging moet aandag kry.

Ons almal het ons daaglikse bekommernisse. Ons kan ook nie ontken dat dinge op verskeie gebiede verkeerd kan loop nie. Die politiek, die huwelik, die gesin, die kerk: Alles is onderhewig aan konflik. Baie keer probeer ons die aaklige waarheid met mooi geskenkpapier toedraai, maar ons bly bewus van die vernietigende monster aan die binnekant. Nogtans, die eerste ding wat ons behoort te doen, is om te bid. Praat met die Here oor u probleme; sê vir Hom van u hartseer. Hy hoor, Hy verstaan, Hy het ’n plan.

Prof Pierre Jordaan, Wonderfontein

af
af
Deel met behulp van
Copy link