Lukas 8: 22-25

Wanneer ons die verhaal in Lukas 8: 22-25 lees, word ons gevul met ’n gevoel van verwondering, soos die dissipels, maar ons is om ander redes as die eerste-eeuse hoorders van hierdie verhaal verwonderd. Vir ons moderne lesers lê die wonder van die verhaal in Jesus se gesag om ’n groot storm oor die see van Galilea te laat bedaar. Die verwondering van die dissipels spruit uit ’n ander rede.

Moderne kommentare skryf die storm toe aan natuurlike verskynsels soos ’n aardbewing of sterk winde oor die see van Galilea. Sulke verduidelikings sou egter nie vir ’n antieke hoorder sin gemaak het nie. In die antieke tyd is die ontstaan van winde en storms toegeskryf aan die invloed van hemelse wesens soos gode, demone of windgeeste. Dit is dus die rede waarom Jesus die winde en water kon aanspreek asof dit ’n mens is (Luk 8: 24).

Hierdie verstaan van die werklikheid het tot gevolg gehad dat daar ’n streng rangorde in plek was en dat elke spesifieke lewende wese ’n sekere plek in hierdie rangorde beklee het. Van die belangrikste tot die nietigste was die orde soos volg: God, die Allerhoogste Heer → ander gode en aartsengele → engele, windgeeste, demone → die mensdom → skepsels laer as mense. Elkeen van die wesens wat onder ’n ander staan, sou geen seggenskap oor die hoër wesens gehad het nie.

Wanneer die dissipels dan aan die einde vra watter tipe man is Hy dat Hy die winde en water beveel en hulle gehoorsaam hom? (Luk 8: 25), is dit eintlik ’n vraag oor waar in hierdie rangorde Jesus staan. Wanneer ons hierdie verhaal in die geheel neem en dit binne die groter narratief van ons geloof lees, is die antwoord baie duidelik: Jesus is die ware bemiddelaar van God se genade vir ons, Hy is die Een wat ons vereer bo alle ander magte, gesagte en heersers. Hy is Christus, Immanuel, Seun van God.

Gesang 514

Ds Robert van Niekerk, Noordelike Pretoria

af
af
Deel met behulp van
Copy link