Miga 6: 1-4; Eksodus 15: 20-21

Wanneer sy kinders op die verkeerde pad is, roep die Here hulle tot verantwoording. Hy begin ’n regsgeding teen sy volk oor hul oppervlakkige godsdiens en oneerlikheid. Tog doen Hy dit as ’n goeie Vader wat nie sy kinders wil verstoot nie, maar hulle in liefde wil reghelp. Daarom spreek Hy in hierdie regsaak sy volk aan as my volk.

Die Here begin deur die oorsaak by Homself te soek. Wat het Ek jou aangedoen? Ek het jou dan uit Egipte verlos! Ek het Moses en Aäron, asook Mirjam, gestuur. So herinner die Here sy volk aan die bekende gebeurtenis toe Hy sy volk uit die slawehuis van Egipte bevry het.

Aan die begin van hierdie geskiedenis was daar ’n jong vrou wat wag gehou het oor die biesiemandjie van haar weerlose broer Moses toe hy as jong kind in die rietbosse van die Nylrivier weggesteek is sodat die farao hom nie in die hande sou kry en doodmaak nie. Haar naam was Mirjam en sy was die suster van Moses en Aäron. Sy was ’n instrument in die hand van die Here wat Hy kon gebruik om sy volk uit Egipte te red. Later was sy saam met Moses en Aäron leiers van die volk Israel.

In een van die oudste liedere van die Bybel in Eksodus 15 word haar naam weer genoem. In hierdie oorwinningslied besing Mirjam saam met al die vroue die grootheid van die Here wat sy volk gered het: Sing tot eer van die Here omdat Hy hoog verhewe is. Perd en ruiter het Hy in die see geslinger.

Hierdie lied van Mirjam, die suster van Moses en Aäron, is die lied wat die grondslag gevorm het van latere liedere wat mense in die loop van die geskiedenis sou sing tot eer van die Here om van sy grootheid te getuig. Ja, daar sou nog oneindig baie geleenthede kom vir mense om oor die grootheid van God te jubel en bly te wees. Mirjam se loflied daar uit die ou gryse verlede is al die eerste Adventlied wat mense kon sing oor die groot reddingsdade van God.

Ds Arie Kuyper, Villieria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link