Prediker 1

Ons het gister gesien dat ’n mens rus kan vind binne wysheid. Ons gaan nog ’n bietjie stilstaan by die boek wat die meeste mense eerder vermy as om te lees. Een tema wat in die boek voorkom, is die gedagte van ’n gejaag na wind of sinneloosheid. Ons sien hoe die woord hebel soos ’n refrein voorkom in die boek. Die letterlike betekenis daarvan is iets soos “damp” – iets wat in die lug kan verdwyn.

Vir Prediker is daar spesifieke dinge wat sinneloos is. Dit is dinge waarmee mense hulself besig hou, dit waarvoor die mens hom-/haarself afsloof (1: 3, 14; 2: 11); die pogings van mense om met wysheid of goeie dade vir hulle voorspoed te verseker (2: 15; 8: 10, 14); om besittings bymekaar te maak en te begeer (2: 26; 5: 9; 6: 9); om aangestel te wees oor ander (3: 16-21; 4: 1-4, 13-16; 8: 9); die meeste dinge wat mense as belangrik beskou (7: 1-14).

Al hierdie gedeeltes kom eintlik op een woord neer, naamlik ydelheid. Dit wat vir die wêreld belangrik lyk, is ’n sinnelose gejaag na wind (7: 29). Tóg is daar rus in balans (7: 15-18). Wysheid is beter as dwaasheid (2: 13; 4: 13-16), en die arbeider se slaap is soet (5: 11). ’n Verhouding met God is al wat sin gee (12: 13).

Prediker worstel met lewensvrae oor wat ’n mens baat en wat nie, en wat sin maak. Hy besef dat ons altyd leef binne God se misterie, sy onverklaarbare grootheid. Is dit nie juis ’n troos nie? Ons kan God nie vasvang in ons denke nie! Ons leef uit sy genade. Alles wat ons het en bereik, is ’n geskenk uit God se hand. Ons as mense is beperk, maar God is onbegrens. Ons lewe kry eers sin wanneer ons nie vashou aan en streef na aardse belange nie, maar wanneer ons in erkentlikheid voor God lewe.

 

Soms kyk ons soekend om ons rond – ons smag na sin en vrede.

Ons voel oorspoel deur sinloosheid in ons gejaagde lewe.

 

Bewaar my van mý sin te soek in my gejaagde lewe.

Laat my alleen op U vertrou – die bron van sin en vrede.

(Gesang 515: 1 en 3)

Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria

Share via
Copy link
Powered by Social Snap