Lukas 5: 3

Die skare staan op die strand en luister na wat Jesus te sê het. Die Fariseërs het hierdie mense vervloek as hierdie vervloekte klomp mense wat nie ons wet ken nie (Joh 7: 49). Die Farisese vervloeking maak duidelik waar hul eie sekerheid vandaan kom: uit die onderhouding van die wet. Die mense wat die skare uitmaak, kon dit nie so ver bring om hul sekerheid in die onderhouding van die wet te soek nie. Daarom sou hulle vatbaar kon wees vir die evangelie.

Die kerk het dit gewoonlik as ’n geleentheid gesien as daar rondom die gemeente ’n skare bestaan. Hulle is die volk wat nog gemeente moet word, en die kerk moet ook altyd daarmee rekening hou. God wil die wêreld in sy barmhartigheid behou. Behou ter wille van die kerk. Nie dat die kerk die wêreld moet beheers nie, maar dat God sy ryk uitbrei en aan sy kinders die geleentheid wil gee om hul doop in te oefen. Dat die skare ten spyte van die feit dat hulle op die drumpel van die gemeente staan, tog nog skare bly, hou die gemeente ook nederig. Daar is immers nog soveel om te doen.

In die geval waarvan ons lees, word die woord in die breë verkondig, maar dit bly die enkeling wat tot geloof geroep word. Toe Hy klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Vaar uit na die diep water toe en gooi julle nette uit om te vang.” Simon word by die naam geroep, en met al sy uniekheid kan hy kind van God word. Hy sal self op hierdie roeping antwoord. Maar hy was een van die skare. Sonder die skare wat gemeente gaan word, sonder die verkondiging, is daar nie Christene nie. Die sorg wat die gemeente dra om God se woord onvervals by die skare uit te bring, sal in elke volgende Simon se belang wees.

Hoe hoog is sy weë, sy dade, gedagte –

Hy is God die Here vir alle geslagte.

(Gesang 483: 3)

Dr Piet Boshoff, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link