Eksodus 33: 12-23
Eksodus 33 vertel die verhaal van Moses en die volk wat uittrek uit Egipte. Van toe af sou hulle God se teenwoordigheid ontbeer. Watter skok vir die volk! God bly egter getrou aan sy beloftes. Moses het telkens ’n tent geneem en dit buite die kamp opgeslaan. Dit het hy die ontmoetingstent genoem, want hier sou hy direk met die Here praat. Die verhouding tussen God en die volk is op die spel.
Moses het drie versoeke. Hy wil die Here ken. In vers 14 (AFR2020) vra God hom: Moet my teenwoordigheid saamgaan, en moet Ek vir jou rus gee? Moses het angs oor die skeiding van God. Hy wil die voortgaande teenwoordigheid van God beleef. Hierop die antwoord: Ook aan hierdie versoek wat jy uitgespreek het, sal Ek voldoen, omdat jy guns gevind het in my oë, en Ek jou by die naam ken. Moses wil die Here ken op ’n dieper manier as voorheen. Hy ontken dat hy geken word. Sy derde versoek is om die heerlikheid van God te sien, maar dit word geweier. Moses soek iets meer, sy angstigheid is nie weg nie. Hy is nog nie heeltemal gerus met die versekering van die Here se teenwoordigheid en kennis nie. Hy wil nie die belofte hoor nie, hy wil die heerlikheid sien. Moses soek nie net versekering nie, hy soek sekerheid.
Op hierdie versoek is die Goddelike respons een van weiering, en op ’n vreemde wyse ook van toegewing. Maar God onthul nie sy heerlikheid nie (wys nie sy gesig vir Moses nie). God kan nie verklaar word of in menslike gedagtes en skemas vasgevang word nie. Hy is ’n misterie wat ons begrip ontglip. Hy wys nie sy gesig nie, maar toon sy karakter. Sy goedheid word gesien.
Ons ken God ten dele. Hy ken ons ten volle. In sy liefde is Hy vry en gebruik Hy sy vryheid om genade en liefde te betoon, om te vergewe en om af te sien van sy toorn. Daarvan getuig die koms van Jesus Christus!
Ds Kathleen Smith, Kaapstad
