Psalm 104: 1-35

Psalm 104 is ’n besondere lied wat die skepping van God beskryf. Die digter skryf in hierdie Psalm oor verskynsels wat wetenskaplikes nog nie kon uitpluis of verstaan nie. Hierdie Psalm was kenmerkend van liedere wat gesing is tydens oesfeeste en daarom word daar in die besonder klem gelê op oorvloed en voorspoed. ’n Mens hoor die uitbundige dankbaarheid wat daar by die digter is oor dit wat hy in die skepping waarneem. Sy tema in hierdie Psalm is daarom: Ek verbly my in die Here.

Verbly ons ons nog in die Here met uitbundige dankbaarheid? Wanneer ons hierdie loflied lees oor die skepping en die natuur, bevind ons ons baie keer in ’n toestand waar ons vervreemd voel van die skepping, die natuur en selfs van God. Ons voel maklik tam en uitgeput en moedeloos – ja, selfs in ’n mate verlore as ons dink aan alles wat verby is en wonder oor wat vir ons in die toekoms voorlê. Partykeer voel dit vir ons asof ons die stryd verloor het, nog voordat ons daarmee begin het.

Waarom is dit so? Waarom beleef ons die wêreld en ons omstandighede so intens negatief en moeilik, en waarom raak ons opstandig? Waarom voel dit vir ons asof ons nie meer in harmonie met mekaar, met onsself, met die skepping en met God leef nie? ’n Moontlike antwoord is omdat ons nie meer God se orde en God se beheer in ons lewens wil aanvaar nie. Ons moet ons weer verbly in die God wat Skepper van almal en alles is en wat in beheer is, en wat ons elke dag deur die ritme van die lewe begelei.

Die Psalmdigter bid in hierdie gedeelte dat die roem van die Here geen einde sal hê nie, en hy doen die belydenis dat hy sy hele lewe lank die eer en die lof van God wil besing. Mag dit ook ons elkeen se gebed vandag wees. Verbly jou in die Here!

Ds Martin Meyer, Secunda

af
af
Deel met behulp van
Copy link