2 Kronieke 34: 1-7; Galasiërs 4: 7; Efesiërs 5: 1
Ons het ’n woud vol bome geërf. Hoe lyk die woud wat jy geërf het? Party van ons sal sê: Ek is trots op die woud wat ek geërf het. Want hier staan pragtige bome van beginsels. Daar is bome van liefde, bome wat iets sê van dit wat ek by my ouers en voorouers geleer het. Daar is bome van gebed, vaste oortuigings, lewenswaarhede, beskerming, vergifnis, bystand en sorg.
Ander van ons se woud lyk dalk nie so goed nie. Want in ons woud staan bome van armoede, skande, verslawing, oneerlikheid, mishandeling en beginselloosheid. Die grond in ons woud is geplunder, oeste is afgehaal en niks is weer geplant nie. Dalk het jy grootgeword in ’n huis waar onverdraagsaamheid aan die orde van die dag was, en daarom kan jy ander wat nie soos jy is nie, glad nie verdra nie. Dalk veroorsaak jou woud meer pyn as inspirasie.
Josia erf ’n woud, ’n wankelrige troon en ’n glanslose kroon. Die tempel was in puin, die wetboek kon nêrens gevind word nie, en die volk het elke god aanbid wat hul hart begeer het. Maar aan die einde van Josia se regering van 31 jaar was die tempel herbou, die afgode vernietig, en die wet van God weer in ere herstel. Die ketting was gebreek, die woud weer teruggeëis. Josia se oupa, koning Manasse, het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here. Josia was ’n skamele agt jaar oud toe hy besluit het om te plant, toe hy besluit het dat hy sou doen wat reg is in die oë van die Here (2 Kon 22: 2). Maar Josia het ook meer gedoen, hy het deur die woud gestap wat hy geërf het en gaan soek na ’n boom wat navolgenswaardig was. Hy het die boom van sy oupa oorgeslaan en tot by die boom gestap met die naam Dawid, en besluit hy gaan soos Dawid wees.
’n Ganse geslag, ganse volk word gered en deur God begenadig op grond van die optrede van een man. Ons is kinders van die verlede, en ouers van die toekoms. Deel van ’n ketting met ’n klomp skakels, elkeen afhanklik van die verlede en saam verantwoordelik vir die toekoms. Plant of plunder jy? Maak seker jy plant bome onder wie se skaduwee jy nie eens gaan sit nie.
Gebed
Vader, U is die groot boom in die woud wat uitstaan bo die ander. Help ons om U uit te soek en na u beeld te leef. In Jesus Naam. Amen.
Ds Lana van Rensburg, Koedoesrand
