Johannes 10: 11-20

Jesus wys hier op die beeld van die goeie skaapwagter wat voor die skape uitloop sodat hulle hom sal volg. Hy loop eerste op die pad om seker te maak die skape kom veilig uit waar hulle moet. Skape sal nie sommer net ’n vreemdeling volg nie. Vreemdelinge wat iemand anders se skape moet oppas, jaag gewoonlik die skape van agter af aan.

In die Nuwe Testament word daar verskeie kere verwys na Jesus Christus as die Goeie Herder. En hier sien ons dit ook wanneer Hy hierdie beelde op Hom en sy volgelinge toepas. Jesus Christus het die vertroue van sy volgelinge gewen en hulle gelei deur sy voorbeeld.

Om dit verder te verduidelik, vertel Hy wat gebeur wanneer ’n herder ’n wolf naby die skape gewaar. ’n Herder wat gehuur is om iemand anders se skape op te pas, gaan nie sommer sy lewe aflê vir die skape nie. ’n Goeie herder sal egter sy lewe aflê vir sy skape, want ’n goeie herder het die pligsbesef dat hy verbind is aan daardie skape. As die skape dit nie maak nie, maak hy dit ook nie. Maar Christus gaan nog verder, want Hy is nie afhanklik van sy volgelinge nie. Hulle is wel van Hom afhanklik en daarom is dit so ongelooflik wanneer Hy sy lewe opoffer vir sy volgelinge. Hy laat hulle nie net oor aan hul eie lot soos ’n huurling wat weghardloop vir die wolf, en die skape aan hul eie lot oorlaat nie. Omdat daar ’n verhouding tussen Jesus en sy volgelinge is, is Hy bereid om sy lewe vir hulle op te offer. Hy hét toe ook sy lewe vir sy volgelinge opgeoffer.

Jesus is werklik die Goeie Herder wat sy volgelinge oppas en hulle help in hul nood, en wat nie skroom om alles op te offer vir ons nie. Mag ons, sy skape, ons afhanklikheid van Hom besef en Hom getrou volg.

Ds Waldo Pretorius, Beroepafwagtend

Share via
Copy link
Powered by Social Snap