Galasiërs 5: 13, 14 en 22; 1 Johannes 3: 16-18

Ons deurdink tans die werk van die Heilige Gees wat die kerklike jaar betref. Ons gaan dus in die volgende vyf dagstukkies na verskillende aspekte van die Heilige Gees kyk.

Vandag vra ons: Wat is dit wat die Heilige Gees in ons wil bewerk? In die ganse Nuwe Testament is die oorweldigende antwoord: die liefde. Die Heilige Gees wil liefde in ons bewerk. As die apostel Paulus aan die Galasiese gemeente die vrugte van die Heilige Gees verduidelik, is sy uitgangspunt dat die vrug van die Gees veral liefde is. Al die ander vrugte is slegs gesigte van die liefde, aspekte daarvan, gestaltes en konkrete toepassings daarvan. Daarom moet ons baie fyn luister wat God oor die liefde sê. Ons kan dit nêrens beter verneem nie as by die apostel Johannes, die apostel van die liefde.

Volg ons Johannes se beskrywing van die liefde in sy eerste brief, sou ons veral drie sake kon uitlig as wesenskenmerke van die liefde. Die eerste is dat liefde altyd bereid is om die inisiatief te neem. Johannes stel dit dat ware liefde nie die liefde is wat ons vir God het nie, maar die liefde wat God aan ons bewys het deur sy Seun vir ons te gee. Die tweede aspek is dat hierdie liefde uit selfopoffering bestaan. Johannes sê naamlik: Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê (1 Joh 3: 16). Daar is ook ’n derde aspek waarna die apostel verwys, en dit is dat hierdie liefde wat die inisiatief neem deur eerste lief te hê, ’n liefde wat bereid is tot selfprysgawe, nie bloot ’n gesindheid of praatjies is nie, maar uit konkrete dade bestaan. Liefde het sigbaarheid.

Gebed

Here, help my om vandag eerste lief te hê, om bereid te wees om die minste te wees, en om met my optrede die liefde wat u Gees in my werk, sigbaar te maak. Amen.

Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort

af
af
Deel met behulp van
Copy link