Johannes 3: 16-21

Die teoloog van die 20ste eeu wat na alle waarskynlikheid die grootste invloed op ander teoloë uitgeoefen het, was die Duitser Karl Barth. Sy publikasie Kirchliche dogmatik, wat duisende bladsye beslaan het, eindig met hierdie eenvoudige woorde: God is die Een wat liefhet. Oor die afgelope dae het ons gepoog om iets van die wese van hierdie liefdevolle God, met eenvoudige menslike beelde, raak te vat. Al sou ons daarin kon slaag om meer gevleuelde woorde en dieper nadenke oor hierdie ingewikkelde onderwerp te vind, sal ons steeds nie meer as die punt van die ysberg van God se liefde ontdek nie. Ons kan hoogstens saam met Johannes 3: 16 uitroep: God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Wie dit glo, kom na die Lig. Die Lig bied oë wat sien en laat sien, ore wat altyd hoor, arms wat lei en vashou, ’n mond wat liefdevol nader roep, en ’n hart wat tot ons heil klop. As ons sy liefde nastreef, dan is dit maklik om na die lig te kom, want ons sal nie skaam wees dat die lig ons dade blootstel nie. Ons strewe, al is dit telkens met ons swakhede en gebrokenheid gekleur, is ’n soeke na God wat vír ons is.

Gebed

Here, ons bely dat ons soeke na U soms deur menslike kanale loop en dat dit dikwels tydelik, voorlopig en beperk is. Ons dank U vir die voorreg om elke dag ’n nuwe reis met U te mag aanpak. Ons dank U vir die voorreg om U te mag ken en naby aan U te kan wees. Ons dank U dat U ons danksy die genade deur Jesus Christus hierdie weg gewys het.

Ds David Barnard, Magaliesmoot

af
af
Deel met behulp van
Copy link