Efesiërs 5: 1-20
Paulus gebruik die baie bekende metafoor van lig teenoor duisternis om die Efesiërs te help om te onderskei wat reg en wat verkeerd is. Soos in Galasiërs 5, is hier ook ’n lys van dinge wat hoort by iemand wat in die duisternis leef. Hy skryf hier nie net vir die individu nie, maar ook vir ’n geloofsgemeenskap wat moet onderskei wat die wil van God is, en wat nie hoort by ’n gemeenskap van gelowiges nie.
Wat ons ook hier moet hoor, is dat wanneer die Gees in ons woon, ons lewens moet verander. Dit is dieselfde dringende woorde wat hy rig aan die gemeente in Korinte. In 1 Korintiërs 6: 19 (AFR2020) vra hy die vraag: Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, ’n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie?
In Efesiërs 5: 15 rig hy die waarskuwing: Wees baie versigtig hoe julle lewe – veral deur te wete te kom hoe die Here wil dat julle moet lewe. Vermy die verkeerde en laat die Gees julle vervul. Ons het die Gees nodig vir onderskeidingsvermoë en om ons vol te maak met dit wat hoort by die lig. Die Gees moet ons vorm om meer en meer die wil van God te soek en uit te voer. Die Gees moet sy vrug in ons laat groei sodat dit sigbaar kan word in ons lewens.
Ons moet vandag ook hierdie raad hoor en volg. Vermy dit wat jy weet teen die wil van die Here is. Maar dit alleen is nie goed nie. Laat die Gees jou vervul, en sing onder mekaar lofliedere en sing met jou hele hart tot eer van die Here. Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.
Gebed
Neem my lewe, laat dit Heer, U gewy wees meer en meer.
Laat my hart gedurig juig en van dankbaarheid getuig.
(Gesang 308: 1)
Ds Manda le Roux, Weskus
