Galasiërs 5: 22-25
Ons is almal in die een of ander stadium bewus gemaak van hierdie teksgedeelte. Ons ken dit nie noodwendig op die punte van ons vingers nie, maar ons weet daarvan en daarom is dit goed genoeg. Of so vertel ons onsself.
Die vrugte wat die Gees binne ons laat groei, is baie belangrik. Dit is wel alles waarmee ons sukkel. Liefde teenoor mekaar, ons eie vreugde en ook dié van ander, om vrede in ons harte te laat leef, om geduld te koester, om eenvoudig vriendelik te wees, om goedhartig teenoor almal op te tree, om getrou te leef teenoor die Here en nie af te dwaal nie, om nederig te wees en nie grootkop te kry nie, en om selfbeheersing toe te pas en nie net te doen wat ons wil nie.
Hierdie is hoë eise wat aan ons gestel word en wat ons moeilik regkry. Ons probeer nie eens altyd om hierdie vrugte te laat groei nie. Ons wil die wêreld blameer vir ons swakheid. Die wêreld maak dit so moeilik om die vrugte te laat groei, maar ons kan dit slegs toeskryf aan ons eie swakheid en geslote harte. Vers 25 insinueer wel dat daar ’n bewustheid van ons menslike swakheid is en roep ons op om opnuut toe te laat dat die Gees ons gedrag bepaal. Ons het nie nodig om staat te maak op ons eie krag nie. Ons moet ons harte oopmaak vir die Gees sodat die Gees kan werk en die vrugte laat groei. Deur die Gees van God is dit absoluut moontlik om hierdie eienskappe te ontwikkel. Ons moet net self ’n tree of twee terugstaan.
Gebed
Gees van God wat in my woon, dankie vir u liefde, dat u vreugde in my hart brand, dat U my met vrede vervul. Dankie vir geduld in my swakheid, en vriendelikheid wanneer ek dit nie altyd verdien nie. Dankie vir u goedhartigheid en getrouheid, u nederigheid en selfbeheersing. Amen.
Ds Yvette Scholtz, Magaliesmoot
