Efesiërs 6: 10-20
Die volgende paar dae gaan ons kyk hoe gebed as ’n wapen kan funksioneer. Dit klink baie vreemd om so oor gebed te dink, maar tog is dit wat gebed is. Dikwels sien ons dit egter nie so nie.
In Efesiërs 6: 10-17 beskryf Paulus hoedat ons as gelowiges daagliks in ’n stryd of oorlog met die bose van die sondige wêreld gewikkel is. Ons veg teen ’n onsigbare vyand wat net een doel het, en dit is om lewens en verhoudings te vernietig. Ten einde staande te bly in hierdie stryd, moet ons ons soos ’n soldaat beklee met die wapenrusting wat God vir ons gee. Hierdie is egter nie gewone oorlogsklere nie, maar die wapenrusting van ’n gelowige. Ons moet ons toerus met die waarheid van Christus, die vryspraak wat deur Christus se dood en opstanding verwerf is, asook geloof, verlossing en die Woord van God. Hierdie dinge sal aan ons beskerming bied teen die stryd wat ons daagliks voer, en dit sal ons in staat stel om op ons pos as gelowiges te bly. Hierdie pos waarop ons moet bly, is daar waar ons elke dag as huweliksmaats, as ouers en kinders, en ook as werkgewers en werknemers lewe. Die uitdaging is: Hoe slaag ons daarin om die geloofswapens te hanteer? Dit voel somtyds asof hierdie stryd net te erg is. Hoe kan en behoort ons as soldate die bose te oorwin?
Deur gebed. Gebed is deel van die wapenrusting van ’n gelowige. Gebed is dikwels die deel van ons wapenrusting wat ons nalaat. Gebed is dikwels dit wat kort, en dit veroorsaak dan dat ons die stryd verloor. Daarom die oproep in Efesiërs 6: 18-20 dat ons dit alles biddend moet doen en gedurig en aanhoudend moet bid. Gebed is die geheime wapen waaroor ons as gelowiges beskik, en die voorreg om met God te kommunikeer en in sy teenwoordigheid ons krag te vind.
Bid gedurig en bid sonder ophou.
Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas
