Markus 1: 16-31

Langs die See van Galilea wys Jesus die eerste verskil tussen die Romeinse Ryk en die koninkryk van God uit. Twee broers, Simon en Andreas, was vissers van beroep en besig om werpnette uit te gooi. Die feit dat hulle met werpnette gevang het, dui daarop dat hulle waarskynlik in diens van ’n welgestelde persoon was, wat op sy beurt ’n kwota by ’n tollenaar gekoop het. Vissermanne is met vis betaal en afhangende van die grootte van die vangs, was die vergoeding dikwels nie genoeg om van te leef nie. Jakobus en Johannes se pa, Sebedeus, het ’n eie skuit gehad en waarskynlik ’n eie kwota.

Vir Simon en Andreas wat aan hierdie meedoënlose bedryf uitgelewer was, breek die koninkryk van God daardie dag aan toe Jesus hulle met dié woorde roep: Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak. Hul reaksie? Hulle het onmiddellik alles net so gelos en agter Jesus aangegaan. Jakobus en Johannes reageer op presies dieselfde manier. ’n Verstommende ding om te doen – om alles net te los en Jesus te volg. Wie sê dit sou uitwerk? Waar sou die volgende inkomste vandaan kom? Petrus het ’n vrou en waarskynlik kinders gehad, wie sou vir hulle sorg? Iets aan Jesus het hierdie vier vissers op daardie oomblik oortuig om Hom onvoorwaardelik te volg.

In ’n oogwink word die onderdrukkende Romeinse bestel vir die koninkryk van God verruil. Hulle sou voortaan mense vang en in die koninkryk van God inbring. Die gemeente in Rome word geroep om vissers van mense te wees.

As Jesus jou vandag roep, is dit onwaarskynlik dat Hy jou vra om jou beroep en sekuriteit net so te los en Hom te volg. Vir sommige, wat tot voltydse evangeliebediening geroep is, mag dit wel só wees. Daar is diegene wat die evangelie aan die mees onbereikte mense in alle uithoeke verkondig. Hoe en waar ook al – om volgeling van Jesus te wees, vra ook van jou om ’n visser van mense te wees.

Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege

af
af
Deel met behulp van
Copy link