Matteus 26: 36-38

In die Lydenstyd kyk ons altyd eers weer na verskillende gedeeltes in die Bybel, in die besonder na daardie gedeeltes wat oor Jesus se lyding handel. Daarna kan ons ook kyk na gedeeltes wat oor die lyding van ander Bybelkarakters handel. Eers dan begin ons hierdie gedeeltes deurtrek na ons eie lyding. Die bedoeling van hierdie Bybelgedeeltes is om ons te help om die inhoud en betekenis van Jesus se lyding te verstaan, en om ook ons lyding en worsteling in die lig daarvan te begryp.

Jesus is in die tuin van Getsemane. Getsemane is ’n Hebreeuse woord wat ’n Griekse woord geword het en plek beteken. Hy weet die dae voor sy kruisdood is min. Hy voel die angs. Ons sien hier die mensheid van Jesus wat tegelyk mens en God is – mens om ons sonde te dra, en God om ons sonde weg te dra. Hy wil in sy donker uur nie alleen wees nie, daarom kies Hy drie dissipels om saam met Hom te gaan (Petrus, Jakobus en Johannes). Ons lees in die Bybel dat Jesus alleen gebid het en dat die drie aan die slaap geraak het. Maar Jesus wou nie alleen wees nie, hulle het Hom in die steek gelaat. Dit laat my dink dat ons nie geskep is om alleen te wees nie, veral nie in ons tyd van nood nie. Ons is almal deel van die liggaam van Christus; elke liggaamsdeel is belangrik. Ontbreek een van die liggaamsdele, is die liggaam gebreklik.

Jesus bid, en hier is sy gebedshouding dié van iemand op sy knieë met sy gesig teen die grond. Dit dui op ’n algeheel nederige en afhanklike posisie. Daar was ander gebedshoudings in die Bybel ook: Mense het gestaan en gebid, bloot gekniel en gebid, geloop en gebid, en selfs gehardloop en gebid. In ’n tyd van nood is Jesus se gebedshouding vir ons ’n voorbeeld van die gesindheid van diepe afhanklikheid van die hemelse Vader.

Ds Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein

af
af
Deel met behulp van
Copy link