Lukas 23: 13-49

’n Mens kan net iemand anders regtig verstaan wanneer jy in daardie persoon se skoene geloop het. In die kruisverhaal lees ons van ’n groot skare mense wat agter Jesus aanloop. Toe Jesus op pad van uitputting nie verder kon nie, dwing die soldate een van die omstanders om Jesus se kruis te dra. Simon van Sirene dra vir ’n gedeelte van die pad Jesus se kruis. Vir ’n deel van die optog kon Simon werklik beleef hoe dit voel om in Jesus se skoene te loop.

Vandag probeer mense ook begryp hoe dit is om in die skoene van Jesus te loop. Duisende pelgrims loop elke jaar die bekende Via Dolorosa, die pad wat Jesus met die kruis deur die strate van Jerusalem sou geloop het. Pelgrims wil daar loop, hulle wil dit sien, hulle wil daardie pad van lyding, swaarkry, pyn, vernedering, alleenheid – en dood – ervaar. Hoe moes dit wees om in die skoene van Jesus te geloop het?

Uiteindelik eindig Jesus se voetstappe op Golgota. Jesus sterf aan die kruis waaraan Simon van Sirene Hom help dra het. Die skare mense staan en kyk vir Jesus aan die kruis. Mense hoor die laaste kruiswoorde van Jesus, totdat Hy sy laaste asem uitblaas.

Daar is egter ’n groot ironie. Sodra ons dink dat ons in Jesus se skoene kan loop – as ons tydens die Pase die kruisgebeure in herinnering roep; wanneer ons in ons geestesoë agter Jesus aanloop tydens die Lydenstyd – dan besef ons: Ek het gedink ek loop in Jesus se skoene. Ek het gedink ek verstaan waardeur Jesus gegaan het. Ek dink ek verstaan Hom. Ek het gedink ek kan in sy skoene loop.

Maar dan besef ’n mens, eintlik is dit Jesus wat in my skoene kom loop het. Jesus neem ons sonde en skuld op Hom. Hy kom loop in my skoene. Hy kom loop die afdwaalpaadjies waarop ek verdwaal het. Hy wandel op die pad van skuld wat op straf oor sonde sou uitloop. Hy loop in ons skoene en bring vir ons vergifnis.

Prof Jaco Beyers, Universiteit van Pretoria / Centurion-Oos

Share via
Copy link
Powered by Social Snap