1 Petrus 3: 13-22

Geen mens hou daarvan om swaar te kry nie. Inteendeel, die mens is gemaak met beskermingsmeganismes, juis om lyding te probeer vermy. So probeer ons ook onsself beskerm teen hoe ander mense ons behandel – as iemand ons goed behandel, is ons geneig om daardie persoon ook goed te behandel. Indien iemand ons sleg behandel, is ons traag om na hulle te luister of om te probeer om hulle te help.

Vir Petrus is dit ’n voorreg om te ly, omdat gelowiges so in die lyding van Christus deel. Gelowiges behoort nie bang te wees om volgens God se wil te lewe nie, selfs al het dit lyding tot gevolg. Christene word in ongeveer 50 lande wêreldwyd vervolg. Hulle verduur lyding omdat hulle glo en hul geloof uitleef soos wat Christene behoort te doen.

Is ons bereid om te ly vir Christus? Dit is moeilik om aan ’n manier te dink om vir Christus te ly wanneer soveel aspekte van ons lewens maklik en gerieflik is. In vergelyking met Christene wat vervolg word, pas ons ook ons geloof aan om maklik en gerieflik te wees. Ons verruil maklik ons geloof vir gerief, byvoorbeeld wanneer ons na ’n ander gemeente of selfs kerkverband gaan as iets wat ons dominee of ons kerkverband gesê het, nie vir ons aanvaarbaar is nie. Ons sien dit ook wanneer ons in ’n geselskap is en stilbly as ander mense se menswaardigheid aangetas word. Ons sal eerder stilbly en aanvaar word as om iets te sê en verwerp te word.

Dalk het lyding in vandag se tyd en konteks nie soseer te make met fisiese lyding nie, maar eerder met die bereidheid om sekere dinge te verwerp in die naam van die Christelike geloof. Dit vra dalk van ons om minder tyd te bestee aan die dinge wat vir ons belangrik is, en meer tyd te gee aan dit wat vir God belangrik is. Dalk beteken lyding om teen die orde van die samelewing te baklei sodat ’n meer regverdige en gelyke samelewing geskep kan word.

Ds Nastasia Vosloo-Steyn, Donegal/Molopo-kombinasie

af
af
Deel met behulp van
Copy link