Openbaring 2: 18-29

In die kerk sal ons altyd voorbeelde kry van geloof, diensvaardigheid en volharding. Daar is sekerlik ook tye in ons eie geloofslewe wanneer ons dit regkry om aan God getrou te wees. Maar omdat die kerk uit mense bestaan, sal daar ook altyd ontrouheid aan God voorkom. Ons ervaar dit ook in ons persoonlike geloofslewe dat ons vanweë ons menslike swakheid in sonde en ongehoorsaamheid verval.

Die verwysing na Isebel in hierdie gedeelte herinner ons juis daaraan. Isebel van ouds het koning Agab tot afgodery verlei en die wingerd van Nabot met leuens en moord afgevat. Sulke ontrouheid kan selfs in ’n godsdienstige gedaante voorkom. Dit word vir ons in die teksgedeelte bevestig deur die voorstelling van Isebel as ’n profetes. Dit is soms mense en gebeure in die kerk self wat ons die seerste maak. Aan die ander kant moet ons daarteen waak om deur ons eie optrede ander tot ’n val te bring.

Deur God se genade kan mense altyd weer tot bekering kom. Dit is ’n proses wat lewenslank duur, en ons sal almal kan getuig van hierdie voortdurende stryd wat in ons woed. Alhoewel God dit nie veroorsaak nie, kan God selfs lyding gebruik om mense tot inkeer te bring.

Dit is nie aldag maklik om aan God getrou te bly te midde van ’n goddelose wêreld nie. Soms kan die druk om toe te gee aan die versoekings van die wêreld baie swaar word. God verwag egter nie van ons om allerlei verpligtinge na te kom nie. God se genade is vir ons genoeg. Daaraan kan ons vashou. Deur Jesus Christus se oorwinning behaal ons ook oorwinning oor die magte van die duisternis. Soos wat die môrester die dag aankondig na die nag, skyn die lig van Jesus Christus steeds deur die kerk in die duisternis van ons tyd.

Dink na:

Hoe doen die Bose homself vandag as iets goeds voor?

Hoe breek God se lig in ons donker wêreld deur?

Dr Gerhard Lindeque, Bybelgenootskap van Suid-Afrika

Share via
Copy link
Powered by Social Snap