Lukas 2: 41-52
Vriend van God:
’n Reisgeselskap op pad vanaf Jerusalem terug na hul tuistes toe. Vir ’n dag lank gaan die groep reisigers voort. Josef en Maria, met die gedagte dat Jesus as kind van 12 jaar iewers saam met familie of bekendes loop. Met angstigheid begin ’n soektog. Vorentoe in die geselskap. Agter toe. Nee, hy is nie daar soos wat hulle gehoop het nie, en algaande word die hoop nou wanhoop. Net een uitweg. Terug Jerusalem toe. Met nuwe hoop en verwagting. Waar begin hulle? Geen ander manier as om maar te voet te loop en oral navraag te doen nie. (Geen selfone om boodskappe te stuur nie.) Kan ons die angs, die kommer, die trane van moeder en vader vir ons voorstel? Loop vir vier dae, soms seker gedraf ook, en hoe voel jy? Moeg. Uitgeput. Glo my, dan vat die wanhoop aan jou! Nog een plek oor. Nuwe hoop. Nou tempel toe! Daar roep hulle uit: Kyk, ons het jou met angs gesoek!
Wanneer jou aardse hoop wanhoop word. Wanneer jou lewe nie loop soos jy beplan nie. As jou verwagtinge nie in vervulling gaan nie, en jy verval in wanhoop. Wat dan? Vorentoe, agtertoe? Waar gaan ons rus en vrede van gemoed vind?
Vriend van God, soek Hom. In sy Woord. In sy huis. In jou gebede. In sy liggaam, die gemeenskap van die gelowiges. Soek Hom wat vrede gee wat die aardse begrip en verstand te bowe gaan. Doen dit haastig, met angs. Besef dan met sekerheid dat daar ’n ander hoop as die aardse is. Ons hoop bly op Hom gevestig. Die Begin en Voleinder. Hy is in sy Vaderhuis. Daar as Voorspraak, vandaar sal Hy weer terugkeer. Dit gee nuwe hoop.
Moenie alleen reis en net dink dat God by jou is nie. Maak elke dag seker dat jy by Hom is, anders verval jou hoop in wanhoop en word dit ’n lang en moeisame reis.
Ds Hennie Aucamp (25/02/1949 — 04/10/2024)