Genesis 1: 1-3; Openbaring 22: 21

Ons lees in Genesis 1: 1 dat God in die begin die hemel en die aarde geskep het. Alles was woes en leeg, heeltemal onbewoonbaar. Daar was duisternis oor alles. Met ander woorde, daar was nog geen lewe op aarde nie. Daar was nie eens skeiding tussen die water en die droë grond nie, tog het die Gees van God oor die waters gesweef. Selfs toe daar nog niks op die aarde was nie, was God teenwoordig en het God vanuit die duisternis beveel dat daar lig moet wees.

Daar is tye in ons lewens wanneer dit vir ons voel of ons in duisternis leef, asof ons lewens dol en leeg is, asof ons lewens heeltemal onbewoonbaar is. Dit voel vir ons of Genesis 1: 1-3 ’n refleksie van ons lewe en die donkerte sigbaar en tasbaar in ons lewe is. Daar waar ons dalk nie die toekoms kan sien nie of nie die hoop en geloof het om in die duisternis voort te gaan nie, juis daar word die lig beveel om te skyn.

Hierdie lig wat God beveel om te skyn, is nie net tydelik nie, dit is nie ’n lig wat verdof of afgeskakel kan word nie. Net soos die Gees van God vanuit die niks en die duisternis geskyn het, so ook sal die Gees tot die einde van alles hier in ons lewens skyn.

Ons lees in Openbaring 22: 21 dat die lig van God vir altyd in ons lewens sal skyn, deur die genade van Jesus Christus. God, wat die lig aan die begin beveel het om te skyn, het die lig laat aanhou skyn deur die liefde en genade wat Jesus Christus aan ons bewys het.

So, wanneer ons lewens donker en leeg en onbewoonbaar voel, weet net dat dit die tyd is wanneer God die lig beveel om die helderste te skyn. En hierdie lig sal vir altyd bly brand, deur die genade van ons Here Jesus.

Ds André Steinmann, Piet Potgieter

af
af
Deel met behulp van
Copy link