Romeine 13: 8-14

Paulus verduidelik hoe die lewe lyk van mense wat deur God verlos en nuutgemaak is. Om aan God te behoort, is nie bloot ’n transaksie, ’n status of ’n nuwe toekoms eendag in die hemel nie. Om aan God te behoort, is om nou reeds nuutgemaak te wees deur Jesus Christus en deur die Heilige Gees wat ons bewus maak van God se liefde.

Daarom moet ons leef uit hierdie nuwe status, die status as verloste kind van God. Ons doen dit deur liefde te lewe: Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Mekaar is ’n inklusiewe term. Dit sluit alle mense in wat jou pad kruis. Ons is liefde aan mekaar verskuldig.

In Jesus se lering oor die barmhartige Samaritaan herinner Hy ons daaraan dat die vraag nie is wie my naaste is nie, maar vir wie ek ’n naaste is. Is ek ’n naaste vir hulle wat my pad kruis, vir hulle wat my en my hulp nodig het, wat my liefde nodig het? Die begrip naaste het in die Nuwe Testament ’n nuwe betekenis gekry. Nou sluit dit alle moontlike mense in ons ervaringswêreld in, nie meer net my volksgenote nie.

Paulus gee ’n opsomming van die tien gebooie soos ons dit vind in Levitikus. Al hierdie gebooie – trouens, elke gebod wat daar is – word in die opdrag tot die liefhê van die naaste soos jouself saamgevat. Vers 14 se oproep, lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus, beteken letterlik volgens die oorspronklike taal: Beklee julself met Jesus Christus. Hierdeur word ons in staat gestel om wel die lewe van die liefde te leef. Deur die gesindheid van Jesus aan te neem, maak sy Gees dit vir ons moontlik om die naaste lief te hê. Sy Gees laat ons weg van onsself af kyk na Christus toe. So word ons omvorm in die liefdeshande, voete, oë en veral harte van ons geloof.

Ds Gustav van Zyl, Phalaborwa

af
af
Deel met behulp van
Copy link