Lukas 14: 15-24
In Jesus se gelykenis word vertel van ’n baie groot geleentheid waar daar baie kos voorberei is en groot moeite gedoen is. Maar tog het die genooide gaste elkeen ’n verskoning. Dit maak die gasheer kwaad, want hulle mis die feesmaal en gee aanstoot aan die gasheer omdat hy reeds al hierdie voorbereidings getref het. Die gasheer besluit dan om al die mense te nooi wat nie eintlik waardig genoeg sou wees om by hierdie hooggeagte gasheer te kan eet nie. Hy nooi al die mense wat die minste status en aansien het in die dorp – die mense wat gebreke het en dié wat arm is.
En dit is hoe die koninkryk van God werk! Jesus verduidelik dat daar ’n klomp mense is wat al lankal weet van die feesmaal, oftewel die koninkryk, wat kom, maar dan word hulle so gewoond aan die idee dat dit eers later sal kom, dat hulle nie die geleentheid aangryp wanneer dit daar is nie! Gelowiges verval in so ’n gemaksone dat hulle nie die Here herken nie en ook nie die koninkryk wanneer dit hier is nie! En wat doen die Here dan? Daardie mense wat deur gelowiges afgeskryf is as mense wat nie soos kerkmense lyk nie, hulle word dié wat genooi word. Hulle is ook dié wat maar te bly is om die geleentheid aan te gryp – want hulle weet hulle verdien die geleentheid nie eintlik nie, maar tog is God se genade ongelooflik groot. Want ons is almal sondaarmense.
Besef ons nog dat die Here vir ons verlossing gebring het van al die slegtheid wat in ons harte inkruip? En dat ons dit nie verdien nie? Die eerste genooides het nie meer die ongelooflikheid van God se genade begryp nie. Die gevaar van mense wat lankal gelowiges is, is dat party van hulle nie meer verwonderd of verslae is oor die uitnodiging nie. Dit word vanselfsprekend. Mag ons altyd verwonderd bly oor God se genade en sy koninkryk. Mag ons, as sondaarmense, altyd die uitnodiging met beide hande aangryp!
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp
