Lukas 23: 44-45a

Wanneer Jesus sterf, word dit lig, na die vreemde, onheilspellende donker van twaalfuur tot drieuur. Die son het opgehou met skyn. Letterlik staan daar die son is verduister. Paasfees vind plaas met volmaan. Die datum word juis volgens die maankalender vasgestel. ’n Gewone sonsverduistering is dus onmoontlik. Hierdie is ’n ander soort donkerte. Donkerte met ’n boodskap oor God en mense: Hier en nou, met Jesus aan die kruis, word God se oordeel oor die mensdom se sonde voltrek. Daarom word dit lig met Jesus se sterwe!

Donkerte simboliseer dit waarvoor mense bang is. In die Bybel is die ergste waarvoor ’n mens kan vrees, dat God jou teenstander kan word, jou vyand. Die grootste ramp is dus wanneer God sy oordeel oor die donker in mense se lewens laat geld.

Donkerte is ook simbolies van dinge wat mense doen waaroor hulle skaam is; dit waarvan ander nie mag weet nie; dit wat in die “donker” gedoen word. Daarom praat ons van mense se skadukant, hul donker sy. Die Bybel noem hierdie donker “sonde”. Dit is ’n donkerte wat nie net hier en daar uitslaan nie. Ons teks praat van donkerte oor die hele land of aarde. Die donkerte van mense se sonde deurtrek ons hele bestaan. Daardie donkerte het al begin met die eerste mense wat soos God wou wees deur alles te weet; wat God selfs wou deurgrond en sodoende beheer. Dit is die donker van die ego. So is ons almal: donker. Dit kan ons nie self verander nie.

Wanneer Jesus sterf, is dit lig. Die oordeel van God is volkome afgehandel. Christus is ons lig, ons hoop. Sy sterwe oorwin elke dag die donkerte van ons ego. Ons is nie aan onsself en ander uitgelewer nie. God het sy oordeel by ons laat verbygaan. Ons is vry, ook van die tirannie van ons ego en die vervreemding wat dit bring tussen ons en God en medemense. Waardeer hierdie lig. Dit is ons kosbaarste skat.

Gesang 383: 1-3

Dr Gert Malan, Mosselbaai

af
af
Deel met behulp van
Copy link