1 Johannes 1: 3-4

Wat beteken dit om deel te wees van die gemeenskap van gelowiges? Deel van die liggaam van Christus; met ander woorde, die kerk?

Baie van u is reeds vertroud met die Griekse woord koinonia. Koinonia kan verwoord word as samesyn, kameraadskap, verhoudings, deelname, aandeel hê en bydrae lewer. Wanneer ons dus praat van ’n gemeente/geloofsgemeenskap, verwys ons na mense wat deur geloof – ’n lewende verhouding met God – deel het aan dieselfde belewenis van die lewe en dit met mekaar deel.

Hierdie geloofsgemeenskap is nie ’n klub nie. Ons kan nie self oor ons lidmaatskap besluit nie. Kerk is kerk omdat God ons daartoe geroep het. Die deel wees van ’n geloofsgemeenskap word dus deur God bepaal en lidmaatskap is ’n voorreg, genade.

Kerk wees word dus nie gekoppel aan ’n gebou nie, want óns is kerk. Daarom dat ons die samesyn, verhoudings, ons deelname sal koester en verantwoordelike burgers van God se koninkryk op aarde sal wees. Daarom dat dit so belangrik is om te onthou dat dit God se kerk is en nie ons kerk nie. Dat my deelname by die kerk nie om mense gaan nie, maar om diensbaarheid aan God.

Mense se ervaring van kerk is dikwels seer of traumaties omdat ons nie besig is met God se kerk nie, maar ons kerk. Mag ons altyd onthou dat God ons tot lidmate geroep het, dat Hy die Hoof van die kerk is en dat ons deelname ’n voorreg en genade is. Mag ons blydskap volkome wees omdat ons die ware Lig ken en ons deel is van sy liggaam en nie andersom nie.

Gebed

Here, so dikwels verdraai ons die orde in die kerk. In plaas daarvan dat ons diensbaar moet wees, wil ons gedien word. In plaas daarvan om U as Hoof te aanbid, word mensgemaakte dinge bo U gestel. Help ons, Heer, om kerk te wees soos U bedoel het. Help ons om verantwoordelike burgers van u koninkryk hier op aarde te wees. Amen.

Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes

Share via
Copy link
Powered by Social Snap