Markus 9: 38-40

Dis hartseer dat verskillende kerke en gemeentes dikwels afgunstig is teenoor mekaar. Ja, dikwels is predikante afgunstig op mekaar, en so ook lidmate. Dalk besef ons nie eens dat ons opmerkings oor ander uit afguns gebore is nie. Dikwels dink ons eenvoudig daaroor as irritasies met daardie kerk of gemeente of dominee of lidmaat wat sus en so maak. Meermale kan ons allerlei argumente voorhou oor waarom hulle standpunt of praktyk in beginsel onbybels of onevangelies of ondeurdag is.

Dan is ons dikwels skerp veroordelend. Ons sien dit veral waar mense ver en veilig agter ’n selfoonskerm op sosiale media afbrekende aanmerkings oor ander maak. So asof ons hulle deur ons kritiek sal keer om op húl manier te glo of te doen.

Die opbou van Markus 9 behoort vir ons as ’n vermaning te dien. In Markus 8: 31 het Jesus vir die eerste keer vir sy dissipels gesê dat Hy moet ly en sterf, en dat daar ook swaarkry en lyding wag op elkeen wat Hom volg. Maar dan vertel Markus van Jesus se verheerliking op die berg, en onmiddellik loop sy dissipels weer met hul koppe in die wolke.

Kort daarna waarsku Jesus sy dissipels vir die tweede keer dat Hy moet ly en sterf en opstaan, maar Markus sê duidelik dat hulle dit nie verstaan het nie. Trouens, direk daarna stry hulle onder mekaar oor wie van hulle nou eintlik die belangrikste is en wie weerskante van Hom sal sit as Hy soos ’n aardse koning aan bewind kom!

Markus 9: 38-40 illustreer hierdie selfgesentreerde denke: Niemand anders mag in Jesus se Naam duiwels uitdryf nie! Húlle mag nie óns eer steel nie. Nee, sê Jesus, laat hom begaan. Wie nie téén ons is nie, is vir ons. Ons is nie met mekaar in kompetisie nie. Dit gaan nie oor óns nie! Nee, dit is ons almal se roeping om God met ons lewens te eer en mense te help waar ons kan. Laat ons dít doen sonder om die Here se ander(se) dissipels af te kraak.

Dr Wouter van Wyk, Sinodaal

af
af
Copy link