Matteus 7: 15-20
Een van die immergewilde bome van ons land is die bekende broodboom. ’n Besondere kenmerk van die broodboom is die groot pynappelagtige keëls wat hulle produseer. Die Modjadji-broodboom is die bekendste en die hoogste spesie, wat tot 13 meter hoog kan groei. Hierdie bome word gewoonlik gevind in die noorde van Limpopo. Dit is beslis ’n boom wat aan sy vrug geken word. Ongelukkig wil almal daarvan hê, daarom dat die broodbome streng bewaar moet word. Lees meer hieroor in Eugene Moll se boek Watter boom is dit?
Wat vertel die vrug wat ons dra vir ander mense? Herken ander mense by ons ’n leefstyl wat getuig van ’n innige verhouding met die Here? Wil hulle graag dieselfde waardes najaag op grond van wat hulle in ons lewens sien? Jesus Christus leer sy navolgers sommer gou om na die natuur te kyk. Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar ’n slegte boom dra slegte vrugte (Matt 7: 17).
Valse profete, skryf ’n kommentaar, was baie algemeen in die Ou Testament. Wat het hulle gedoen? Hulle het presies gesê wat die wêreld graag wou hoor. Baie mense klink godsdienstig. Tog is hul motivering om hul eie sakke te verryk, dalk ’n besondere status te verkry, en/of om hul eie ideale te verwesenlik.
Wanneer dra iemand slegte vrugte volgens die Woord? Die oomblik wanneer “jy” of “enigiets anders” belangriker word as jou verhouding met die Here Jesus Christus! Alleen in Jesus Christus kan ons gesonde vrugte dra. Ons Heiland leer ons in Johannes 15: 5: Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.
Gebed
Hemelse Vader, U is die Boer; Jesus Christus, U is die Wingerdstok; Heilige Gees, U maak bekend die vrug van die Gees. Laat ons goeie vrugte dra, laat u woorde in ons bly. Amen.
Gesang 273: 1 en 4
Ds Anna-Marie Kloppers, Rustenburg Jac van Belkum
