Joël 1: 9-10, 13-14

Die volk het ’n probleem en die priesters het ’n probleem. Hulle kan nie meer hul godsdiens beoefen soos vroeër nie. Hulle kan nie meer elke oggend en aand aanbid en offers bring nie. Hoekom nie? Daar is nie meer produkte waarmee hulle kan gaan offer nie. Daar is nie meer koring en graan nie, ook nie meer olyfolie en wyn nie. Wat moet hulle nou maak?

Joël roep die volk op tot verootmoediging voor die Here. Bepaal ’n vasdag. Die priesters moet rouklere aantrek, klere geskik vir ’n begrafnis. Nou is dit tyd vir verootmoediging. Joël beklemtoon eintlik met sy opdragte dat hierdie ’n saak van erns is, want dis nie net hul lewens wat beïnvloed is deur alles wat om hulle gebeur het nie. Dit raak ook spesifiek die huis van die Here. Nou kom ’n nuwe vorm van aanbidding in die plek daarvan. Selfverloëning en verootmoediging voor die Here, wagtend op uitkoms.

Verlede jaar het ook ons ’n probleem gehad. Ons manier van erediens beoefen is beïnvloed en daar is namens ons besluite geneem. Maar die aanbidding van God het voortgegaan. Afhanklikheid van God het gebly en daar was ’n nuwe ontwaking vir geestelike versorging, die les van ons geestelike honger en dors.

Jesus Christus se koms het ook ’n verandering gebring aan die mens se uitkyk en belewenis van God. Na sy hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees het dinge ook vir die gelowiges verander. Maar wat het nie verander nie? God in sy voorsienigheid en sy versorging. Sy koninkryk het deurgebreek en ons mag dit elke dag beleef, met of sonder middele, met of sonder ’n geloofsgemeenskap. Laat ons ons, soos die volk van ouds, ook in hierdie dag voor die God van lewe en aarde verootmoedig, in dankbaarheid vir die gawe van nog ’n dag, van lewe.

Ds Kathleen Smith, Kaapstad

af
af
Deel met behulp van
Copy link