Filippense 2: 5-11

Hoe moet ons dit verstaan dat dit God self is wat in Christus mens geword het? Hy sou van sy Goddelikheid moes afstand doen om volledig mens te word. Van al God se eienskappe is sy liefde allesoorheersend. God is liefde, dis die kern van sy wese. Daarrondom is daar eienskappe soos sy ewigheid, sy alomteenwoordigheid, sy almag en sy alwetendheid. Dit is tog verstaanbaar dat God nie dit alles kon saamneem tydens sy menswording nie.

God is ewig, maar Jesus Christus word gebore onder die regering van koning Herodes, en Hy sterf onder keiser Tiberius. God is alomteenwoordig, maar Jesus Christus word in Betlehem gebore en Hy sterf op Golgota. God is almagtig, maar Jesus Christus lê as magtelose kind in ’n krip en sterf as magtelose aan ’n kruis. God is alwetend, maar Jesus Christus sterf met ’n vraag op sy lippe: My God, my God, waarom het U My verlaat?

Ons praat steeds op menslike wyse oor God. God se menswording is soos ’n ui wat afgeskil word – die een laag na die ander. ’n Ui het nie ’n kern of pit soos ’n perske nie, maar as ’n ui wel ’n kern gehad het, sou ’n mens daardie kern as liefde kon beskryf.

Die Seun gee Homself weerloos en naak aan die wêreld oor, des te meer straal sy wese, sy liefde vir ons. Hoe dieper Hy daal, hoe meer word sy wese, sy liefde, gereflekteer. Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad (Joh 13: 1b). In die mens Jesus Christus is al die Goddelike eienskappe verborge, maar dis juis in hierdie mens dat God sy liefde vir ons mense openbaar. Dit was ’n vernedering vir die Seun van God, maar Hy doen dit kragtens sy liefde vir ons en ter wille van ons saligheid.

Gesang 338: 1-2; Gesang 339: 1-2

Ds Petri de Kock, Pierneef

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link