Psalm 57

In 1 Samuel 24 lees ons die verhaal van Dawid wat Saul se kamp binnesluip met die bedoeling om hom dood te maak. Dawid is so naby dat hy Saul se spies en waterkruik kan afvat, maar hy gaan nie oor tot moord nie, want die koning is God se gesalfde, God se verkose leier. Dawid beleef as’t ware ’n oomblik van insig wanneer hy besef dat hy hier eintlik teen God in opstand sou kom.

Later sou Saul op Dawid se spoor wees waar Dawid ook in ’n grot skuiling soek. Dit is daar in die grot waar die dagbreek teen die hange van die grot se mure weerkaats word dat Dawid tot digterlike insig gelei is. Die daeraad word die stille getuienis dat God in beheer is. In Dawid se verlede was God se teenwoordigheid altyd sigbaar, wat sal nou vir hom anders wees? Met vreugde wil hy die daeraad inwag, wakker maak, want dit is daarin dat hy God se goedheid (daagliks!) ervaar. 

Die digter se gemoed verander van desperaatheid en angs wanneer hy die veilige hand van God ervaar, sodat  hy die daeraad wil inwag met koorsang. Al is dit nog donker om hom, is sy gemoed nie meer donker nie, want God se lig het in sy lewe ingeskyn..

Ons omstandighede bepaal daagliks hoe ons die lewe ervaar. Ons raak soms soos Dawid benoud omdat ons voel asof ons in ’n grot vasgedruk word, waar vyande ons soos roofdiere omsingel. Ons gesprekke met God as antwoord op die evangelie van genade laat ons dieselfde gebeure anders ervaar sodat ons angs en desperaatheid ook kwyn. God se ewige lig verlig die mens se gemoed sodat ons, nes die digter, die passie ontdek om die daeraad in te wag. Al is ons nog in die donker van ons omstandighede, gee God se genade vir ons hoop! Want dan is God in die rooidag, al is ons in ’n grot.

Ds Quinten Schimper, Krugersdorp/Krugersdorp-Wes

af
af
Deel met behulp van
Copy link