Klaagliedere 3
Ene Paul Morphy vertel in ’n stadium die anekdote van ’n skildery wat in die Louvre in Parys gehang het. Die skildery se naam was Die Skaakspeler en dis in 1831 deur Moritz Retzsch geskilder. In hierdie skildery is die Bose en die mens in ’n skaakspel gewikkel. Die heersende wysheid van die dag het bepaal dat die Bose besig is om die mens ore aan te sit in hierdie skaakspel. ’n Skaakmeester het, blykbaar, op ’n keer lank na hierdie skildery gestaan en kyk; en het toe hard uitgeroep: Dis nie skaakmat vir die mens nie! Die koning het nog ’n skuif oor! Voel ons nie ook soms asof ons skaakmat in ons lewens bereik het nie?
In Klaagliedere 3 hoor ons dat dieselfde sentiment deur die digter uitgespreek word. Die digter beleef ’n uiters moeilike tyd in sy of haar lewe. Dis immers waaroor Klaagliedere gaan: die klaagliedere van ’n persoon wat deur onmoontlike situasies in die lewe gaan. Die digter vertel vir ’n volle twee hoofstukke van al die hartseer, swaarkry en wanhoop wat hy of sy ervaar. Dit bereik ’n hoogtepunt in Klaagliedere 3: 18-19, wanneer die digter dink dat dit skaakmat is met sy of haar hoop op die Here.
Skielik begin die toon egter van vers 21 af heeltemal verander. Die digter erken dat die liefde van die Here gesorg het dat dit toe nie skaakmat vir hom of haar was nie. Dis asof die digter sê: Ek het al die tyd gedink dat ek skaakmat bereik het, maar daar is tog een skuif oor. Die Koning het daardie skuif gemaak.
Staar jy jouself vas in jou eie doodloopstraat? Voel dit vir jou asof dit skaakmat is met jou hoop op die Here? Mag ons onthou dat, wanneer dit vir ons voel asof daar niks meer skuiwe vir ons oor is nie, die Koning steeds skuiwe kan maak. Dis allermins skaakmat vir ons!
Ds Steve Oxton, Wapadrant