Hebreërs 12: 12-29

Ons bevind ons telkemale in die spanning tussen vaskleef aan en verlang na die bekende, die ou dae aan die een kant, en die uitsien na en verwagting van die nuwe dinge aan die ander kant. Soms wil ons terugkeer na waar alles maar net bly soos wat dit in die verlede was. Ander kere raak ons opgewonde oor nuwe moontlikhede en nuwe tegnologie en die kanse vir ’n beter toekoms. Hierdie beginsel pas ons ook baie keer op ons lewens toe, en in die besonder op ons geloofslewens. Ons raak gou moeg vir iets en ons verloor maklik belangstelling wanneer iets te lank aanhou.

In Hebreërs wil die skrywer ons juis daaraan kom herinner dat alles in Christus nuut geword het. Die ou bedeling is verby, die nuwe bedeling het aangebreek. In ons gelese gedeelte maak hy ’n vergelyking tussen die Sinai-ervaring en die Sionservaring. Sinai is die berg waarop Moses die wet ontvang het, terwyl Sion die simbool is van die heilige stad en van God se teenwoordigheid. By Sinai het die volk afstand, vrees en angs ervaar oor God se teenwoordigheid. By Sion ervaar hulle nabyheid, vrymoedigheid, vergifnis, waar hulle deel word van Christus se volkome verlossing. In die ou bedeling het hulle gesiddder van angs oor die heerlikheid van God – in die nuwe bedeling het hulle vrymoedigheid om na God toe te kom, want Hy het klaar die pad vir hulle oopgemaak.

In verse 12 en 13 kom die oproep: Versterk daarom die slap hande en die lam knieë en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word. In vers 28 word ons daaraan herinner dat ons ’n onwankelbare koninkryk ontvang het. Daarom moet ons God dankbaar dien met ontsag en eerbied, soos Hy dit wil. In die Opstandingstyd word ons herinner aan God se onwankelbare koninkryk. Ons kan in die wêreld gaan leef met die sekerheid dat ons deel het aan hierdie nuwe bedeling. God rus ons toe om te bly volhard.

Ds Martin Meyer, Secunda

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link