1 Korintiërs 15: 12-20

Ek het nog nooit van Nikolai Ivanovich Beukharin gehoor nie, tot ek die volgende gelees het. Gedurende sy leeftyd was hy ’n leier in die Russiese Kommunistiese Party, volle lid van die Politburo en redakteur van die Sowjet-koerant Pravda. Sy werk oor ekonomie en politieke wetenskap word steeds bestudeer. Daar is egter ’n ander storie oor Nikolai wat hy en sy partygenote nie oorvertel het nie. Dit hou verband met ’n reis wat hy onderneem het van Moskou na Kiëf in 1930 om ’n groot byeenkoms te gaan toespreek oor ateïsme. Sy hoofdoel was om die Christendom te verkleineer en elke moontlike argument daarvoor in te span.

’n Uur later was sy toespraak verby en het hy opgekyk en gehoop om die smeulende as van mense se eertydse geloof te sien. Daar het ’n somber stilte oor die saal gehang. Is daar enige vrae? het Nikolai geroep. ’n Doodse stilte, tot een ou man opstaan en stadig na die verhoog begin stap. Hy het langs die Kommunistiese leier gaan staan, skouer teen skouer, en die skare van links na regs deurgekyk. Uiteindelik het hy met alles in hom die antieke groetwoorde van die vroeë kerk uitgeroep. ’n Groet wat goed bekend was aan die Russiese Ortodokse Kerk. Die Here het opgestaan! Soos een mens het die skare op hul voete gekom en teruggebulder: Die Here het waarlik opgestaan! Nikolai moes die aftog blaas – sy beste argumente het niemand oortuig nie.

Met die skryf van hierdie dagstukkie is die oorlog in Oekraïne reeds 43 dae aan die gang. Die stad Kiëf was voorheen aan die meeste van ons onbekend, terwyl die bombardering op hierdie stad tans daagliks in die nuus is. Ek wonder wat die situasie gaan wees wanneer jy hierdie woorde lees? Het die oorlog uitgekring, of het daar vrede gekom? Ongeag – mag die opstandingskreet wat eens in Kiëf weerklink het, steeds wêreldwyd weerklink: Die Here het opgestaan. Die Here het waarlik opgestaan!

Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege

Share via
Copy link
Powered by Social Snap