Jakobus 4: 1-10
Jakobus sluit hoofstuk 3 af deur te sê dat ware wysheid, wysheid wat van bo kom, vrede inhou, terwyl valse, aardse wysheid tot konflik lei. Hy verduidelik dit omdat daar nie in die geloofsgemeenskap waar hy hom bevind, vrede tussen die gelowiges is nie. Aan die begin van die hoofstuk soek hy na die oorsprong van die konflik en vra: Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Hy verwag nie dat hulle die vraag moet antwoord nie, en daarom volg hy dit met nog ’n vraag op: Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie?
Daar is konflik in hierdie gemeenskap, want hul begeertes is die dryfkrag in hul lewens. Daarom verwys Jakobus na hulle as ontroues. Hierdie woord kan letterlik vanuit die Grieks vertaal word as “egbrekers”. Nie omdat daar onkuisheid in die gemeente was nie, maar vanuit die Ou Testamentiese verstaan dat die Here met sy volk getroud is en sy bruid ontrou was. Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ’n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ’n vyand van God is. Die ontrouheid waarvan Jakobus hulle beskuldig, is hul vriendskap met die wêreld. Hulle het geword soos die ongelowiges om hulle, en hulle het nie meer die eienskappe wat God van hulle verwag nie.
Dit is nie moontlik dat die liefde vir die wêreld en die liefde vir God albei in ons kan wees nie. Jesus het gesê dat niemand vir twee base tegelyk kan werk nie. Die een sal altyd voorkeur bo die ander kry. Alhoewel hierdie gemeenskap veronderstel was om deur hul geloof aan mekaar gebind te wees, het hul begeertes hulle van mekaar vervreem. Jesus het vir ons ’n eenvoudige beginsel gegee om volgens te leef: liefde vir God en liefde vir mekaar. Maar ons as gelowiges sukkel darem maar vreeslik om iets so eenvoudig reg te kry. Mag ons as gelowiges deur liefde gekenmerk word sodat die wil van die Here ons dryfkrag sal wees en nie ons selfsugtige begeertes of die waardes van die wêreld nie.
Ds Marsulizé van Niekerk, Upington
