Openbaring 3: 14-22

Die brief aan die gemeente in Laodisea bevat die bekende beeld van Jesus wat by die deur staan en klop. Holman Hunt het dit as inspirasie vir sy bekende skildery The light of the world geneem. Maar dit wat volg na die klop, is net so belangrik. Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My (vers 20).

Die woord wat hier vertaal word as feesmaal, beteken gewoon om te eet. In die antieke wêreld het etes op spesifieke wyses plaasgevind en was dit gevul met betekenis. Mense van dieselfde sosiale status sou saamgeëet het, en op hierdie wyse sou die status en posisie van diegene wat saameet, bevestig word. Etes het dus daartoe bygedra om te verstaan hoe die sisteem werk.

As vers 20 noukeurig gelees word in die Grieks, is daar verskeie merkers wat aandui dat hierdie ete nie vanselfsprekend is nie, maar dat dit alleenlik kan plaasvind as die deur oopgemaak word. Dus sien ons dat die gemeente van Laodisea moes kies om oop te maak en so deel te word van God se koninkryk en van Jesus se werk in die wêreld. Eers dan kon hierdie ete plaasvind. Wanneer hulle kies om die deur oop te maak, vind daar iets ongelooflik plaas. Die Amen en geloofwaardige getuie van God kom in en eet saam met hulle en hulle saam met hom (Op 3: 14, 20). En so word hulle medewerkers in die koninkryk van God.

Die skildery van Holman Hunt illustreer dit op ’n wonderlike wyse. Die deur waar Christus staan en klop, het slegs aan die binnekant ’n handvatsel, en so bly die keuse om die deur oop te maak en deel van God se werk te word by ons.

Here, ons bid so maklik vir u ingryping. Terwyl U wag vir ons deelname, lei ons om die deur oop te maak!

Ds Robert van Niekerk, Noordelike Pretoria

af
af
Deel met behulp van
Copy link