Numeri 20: 6; 1 Korintiërs 10: 11-12

Ek het grootgeword in die skadu van Tafelberg. Daar staan die berg, eeu in eeu uit. Storms kom en gaan. Reën, wind, wolke en sonskyn kom en gaan. Die berg staan vas en rustig. Wie meen dat hulle vas staan in die lewe en geloof, pasop, waarsku Paulus. Toets dit.

Met einde van die tye wat ons al beleef bedoel Paulus nie die einde van die wêreld of die wederkoms nie. Tyd loop ten einde, kom tot stilstand wanneer verlede, hede en toekoms saamvloei. Dan is tyd en die tydelike nie meer ter sake nie. Dit bepaal niks meer nie. In God se bedeling is daar nie tyd nie. Wie in God se bedeling leef, laat jou nie meesleur deur dinge in die tyd nie, is nie daarvan afhanklik om jou vreugde te gee nie, en die dinge het ook nie die mag om jou vreugde te ontneem nie. Dan kan jy vasstaan soos Tafelberg: tydloos, ongesteurd, ongeskonde.

Paulus gebruik Moses en Aäron as voorbeeld. Almal was saam in die woestyn, hulle omstandighede presies dieselfde. Die mense kla. Hulle verlang selfs terug na die plek van slawerny. Moses en Aäron onttrek hulle aan die mense. Hulle gaan wag op God in die tabernakel. Toe God verskyn, ervaar hulle die grootsheid in algehele verwondering. Tyd staan stil. Niks anders het betekenis nie, want hierdie teenwoordigheid is die betekenis van alles.

God was ook nie net in die tabernakel teenwoordig nie. Die mense het wel die tekens kon sien van God se nabyheid. Daar was die beskermende wolk, die water uit die rots, die manna uit die hemel. “Manna” in Hebreeus beteken “iets”. Mense het altyd genoeg om oor te kla. Maar daar is ook altyd die “ietse”, die tekens van God se sorg en nabyheid. Wie die “ietse” wíl raaksien, op God se teenwoordigheid wíl wag, kan die grootsheid in verwondering ervaar. Dan staan die tyd stil. Alles kom tot bedaring. Die gelowige kan vasstaan soos ’n berg: tydloos, ongesteurd, ongeskonde.

Prof Yolanda Dreyer, Universiteit van Pretoria /     Nederlandssprekende Gemeente

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link