Psalm 126

Wat doen ek as ek myself tussen die duiwel en die diep blou see bevind? Psalm 126 gee vir ons perspektief op hierdie vraag. Dis ’n Psalm met twee gesigte – ’n loflied en ’n klaaglied, ’n lag en ’n traan. Dit is die lied van ’n volk wat juigend teruggekeer het na hul land nadat hulle in ballingskap was. Dit waarvoor hulle gebid het, het eindelik waar geword. Psalm 126 begin met hierdie vreugde – ’n volk wat lag en vir die Here dankie sê vir sy wonderlike genade.

Die droom verander egter vinnig-vinnig in teleurstelling. Die tyd na die ballingskap is ’n groot aanpassing. Daar is ’n ekonomiese resessie en sosiale ongelykheid, en die tempelbou kom nie aan die gang nie. Die verlede maak ’n dankgebed wakker, maar die toekoms bring ’n klaaglied. Die lewe en vooruitsigte lyk soos die suidland, die woestyn, die droë Negev-streek. Kaal, droog en dor. Die droom verander in ’n hulpelose kreet: Here, verander tog ons lot! ’n Rou skree uit ’n stukkende hart. Dit is die lewe – tussen lag en huil, tussen die duiwel en die diep blou see.

Die verrassende is dat die huilende saaier wat nie weet hoe die saad gaan groei nie of hoe sy saaiwerk se eindproduk gaan lyk nie, nogtans saai. Hy saai en vertrou dat die saad iewers sal wortelskiet en groei. Die hoop is dat die droë woestyn in ’n goudgeel koringveld sal verander. Tyd gebeur tussen die saai en die oes. Die Heilige Gees werk sag en werktuiglik – soms stadig, maar seker. Saai is mensewerk, maar die kiemkrag en die groei is God se werk.

Weer word die sirkel voltooi – die seer word lag, die moedeloosheid word hoop. Tussen die spasies van seer en lag, van moedeloosheid en nuwe drome, is God teenwoordig. Hy is voortdurend aan die werk om ons lot te verander. Die alreeds van God se werk gee vir ons hoop vir die nog nie van ons hier en nou. Tussen die duiwel en die diep blou see … is God!

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia

Share via
Copy link
Powered by Social Snap